Gimmies presteer by landloop atletiek in Mosselbaai

Foto's verskaf.

Met groot trots wil Gimmies hul landloopatlete gelukwens met hul uitstekende prestasies tydens die Landloop Liga 2-byeenkoms wat die afgelope naweek in Mosselbaai plaasgevind het. Ons atlete het weereens bewys dat harde werk, deursettingsvermoë en toewyding tot besondere resultate lei.

Verskeie atlete het uitstekende individuele prestasies behaal en Gimmies se naam hoog gehou. In die Dogters o. 15-afdeling het Sarah Saayman ʼn indrukwekkende eerste plek behaal. Caitlyn Cawood het ook met ʼn puik vertoning die eerste plek in die Dogters o. 17-afdeling losgehardloop, terwyl Amy Whitham in dieselfde afdeling ʼn welverdiende derde plek ingepalm het. In die Dogters o. 19-afdeling het Ané Bester uitstekend gevaar en eerste geëindig.

Aan die seunskant het Alexander van der Westhuizen met ʼn sterk wedloop die eerste plek in die Seuns o.16-afdeling verower. CJ Jaftha het ook uitstekend gevaar deur derde te eindig in die Seuns o. 17-afdeling.

Hierdie prestasies is ʼn bewys van die atlete se harde werk tydens oefeninge, hul dissipline en die ondersteuning van hul afrigters en ouers. Landloop vereis nie net fisieke uithouvermoë nie, maar ook deursettingsvermoë en ʼn sterk ingesteldheid — eienskappe wat hierdie atlete duidelik uitleef.

Gimmies is ongelooflik trots op elke deelnemer wat die skool met trots verteenwoordig het. Julle toewyding en sportmangees inspireer die hele skoolgemeenskap. Ons wens al ons landloop-atlete baie sterkte toe vir die res van die seisoen en sien uit na nog puik prestasies in die komende byeenkomste. (GRANWILLE GOLIATH)