Gimmies oorheers FNB Classic Clashes op tuisbodem

Foto's verskaf.

Die FNB Classic Clashes het Vrydag op opwindende wyse afgeskop toe Langenhoven Gimnasium kragte gemeet het met Hoërskool Van Reede, asook spanne van Hoërskool Struisies en Bridgton. Dit was egter die Gimmies wat die dag behoorlik oorheers het met indrukwekkende vertonings op die netbal-, hokkie- en rugbyvelde.

Die grootste vuurwerke het op die netbalbane losgebars waar Gimnasium eenvoudig te sterk vir Van Reede was. Die Gimmies het sewe van hul agt wedstryde gewen en hul teenstanders behoorlik ore aangesit. Die o.14-spanne het die toon aangegee met oorwinnings van 20-5, 39-8 en 35-13. Die o.15C- en o.15B-spanne het ook gemaklik gewen met onderskeidelik 23-7 en 31-8, terwyl die o.15A’s die enigste nederlaag moes verduur nadat hulle 15-22 vasgeval het.

Die o.16C-span het weer gewys waarom Gimnasium as een van die streek se sterkste netbalskole beskou word toe hulle Van Reede se o.15A-span met 31-4 verniel het. Die o.16A-span het boonop Struisies se o.17A-span met 39-2 afgestof, voordat die o.18A’s met ’n reuse 51-4-sege afgesluit het.

Op die hokkieveld het Gimnasium eweneens skoonskip gemaak. Die dogterspanne was veral klinies en het groot oorwinnings behaal, waaronder ’n 11-0-pak slae deur die o.14A’s. Die o.16B’s het 4-1 gewen, die o.16A’s 3-0, die o.19B’s 6-0 en die eerste span 2-0. By die seuns was daar nóg dominante vertonings met die o.16A’s wat 4-0 gewen het, die o.19B’s 1-0 en die o.19A’s 4-0.

Die enigste terugslag was die o.16B’s se 0-8 nederlaag.

Saterdag het die aksie verskuif na die rugby. Die rugbyaksie het ook vir groot opwinding gesorg. Die o.14A’s het Struisies met 52-0 verniel, terwyl die o.19A-span in ’n naelbytstryd met 34-33 koning gekraai het. Die o.16A’s het hul krag gewys met ’n 40-22 oorwinning, en die o.19B’s het met 42-19 gewen.

Met soveel oorheersende vertonings het Gimnasium vroeg reeds ’n sterk boodskap uitgestuur: die Gimmies gaan vanjaar moeilik geklop word. (GRANWILLE GOLIATH)