Die alombekende Juffrou Midas.
Deur Garnett Wicomb
’N GELIEFDE oud-onderwyseres van Sacred Heart Primêr, Georgine Margareth Beauzec, alombekend as Juffrou Midas, is op 12 Augustus na ’n lang siekbed op 88-jarige ouderdom oorlede.
Sy was vir sowat vyf jaar bedlêend.
“Ons neem vandag afskeid van een van Oudtshoorn se groot geeste in die onderwys, die kerk en die gemeenskap,” het Simon Swigelaar, jarelange vriend van Beauzec, tydens haar roudiens in die Volkskerk van Afrika gesê.
Hy het Beauzec as ’n ware dame, ’n perfeksionis en mense-mens beskryf. Sy was ’n reguit mens wie se ja haar ja en nee haar nee was.
Volgens Swigelaar sal hy Beauzec onthou as iemand wie se deur vir almal oopgestaan het en wat haar al haar susterskinders met deernis behandel het.
Sy was die laaste van sewe kinders van wyle Koos en Georgine Beauzec van Hillstraat, Noordeinde.
Sy het haar laerskoolopleiding aan die destydse Volkskerkskool in Hoogstraat ontvang en haar hoërskoolopleiding aan die Hoërskool Môrester, destyds in ’n ou tabakfabriek in Noordstraat.
Daarna het sy haar aan die Athlone Instituut in die Paarl as onderwyseres bekwaam en haar onderwysloopbaan by Sacred Heart begin.
Sy het later vir twee jaar by Bergsig Primêr skoolgehou en teruggekeer na Sacred Heart waar sy in 1985 die tuig neergelê het.
Volgens Swigelaar was sy ’n baie toegewyde onderwyeres en familiemens en baie betrokke by haar kerk en in die gemeenskap. Sy was lid van die destydse huisvroueklub, het kankerpasiënte besoek en die pad kerk toe geken.
Sy was op haar dag ook ’n kranige tennisspeler en lid van die destydse White Lillies Tennisklub. Sy het saam met wyle Mac le Roux Solomons talle SWD-tennistitels ingepalm.
Beauzec is tydens ’n privaatgeleentheid veras.