Fees van sport tydens KKS-Gimmies Sporttoernooi 2026

KKS het ook die skeidsregters geborg. Foto’s geneem deur: JMO Pro, Ilse Jordan, Die Hoorn, Gimnasium Ondersteuners, Langenhoven Gimnasium en D Tromp.

Die Klein Karoo Saad-Gimmies Sporttoernooi het die afgelope langnaweek by Langenhoven Gimnasium, op Oudtshoorn plaasgevind.

Dit was behoorlik ’n sportfees, en die gees en aksie kon nie eers deur die reën of koue gedemp word nie, en die deelnemers is beloon met die mooiste dubbelreënboog.

Altesaam 18 hoërskole met 38 spanne van die Wes- en Oos-Kaap het aan die toernooi deelgeneem en oor drie dae kragte gemeet in rugby, hokkie en netbal.

Die toernooi, wat verlede Vrydag afgeskop het en Maandag tot ’n einde gekom het, het ’n propvol program van wedstryde gebied, met spanne wat reeds vroegoggend begin speel het.

Tydens verlede Vrydag se openingseremonie het skole hul vlae trots gedra, en die toon aangegee vir ’n naweek propvol kameraadskap, mededinging en sportgees.

Besoekende spanne het Sondag die geleentheid gehad om Oudtshoorn te verken en die Klein Karoo se gasvryheid te geniet.

Die groeiende deelname vestig die toernooi as ’n belangrike hoogtepunt op die plaaslike skolesportkalender.

Uitslae is beskikbaar op Langenhoven Gimnasium se Facebook-blad.

David Malan – uitvoerende direkteur van Klein Karoo Saad:

Die afgelope naweek het die tweede KKS- Gimmies Sporttoernooi in Oudtshoorn plaasgevind en wat ’n heerlike toernooi het dit geword in die kort tyd wat dit aan die gang is. Klein Karoo Saad met sy filiale, Klein Karoo Saadproduksie en AgroFors, is baie trots om as hoofborg geassosieer te wees met die prestige toernooi.

Dit was vir ons ongelooflik om te sien hoe die toernooi, sedert 2025, feitelik verdubbel het en bykans uit sy nate bars. Die passie waarmee die personeel van Langenhoven Gimnasium en ook KKS, die toernooi aangebied het, was ’n absolute vreugde.

As hoofborg wil ons graag ook die geleentheid gebruik om Carl Snyman, en sy hele span, geluk te wens met ’n uitstekende toernooi. Dit is vir ons ’n voorreg om betrokke te wees by die toernooi.

Dit is vir ons ’n groot voorreg om betrokke te wees by ondersteuning en voorbereiding van leerders deur die sport te ondersteun waaraan hulle deelneem. Ons is ook dankbaar vir die geleentheid wat wedstryde en toernooie skep vir ouer- en gemeenskapsbetrokkenheid. Ons is betrokke by ’n verskeidenheid sporte waarvan die belangrikstes insluit rugby, hokkie, krieket, netbal en toutrek.

Ons wil dankie sê vir almal wat deelgeneem het aan die KKS-Gimmies Sporttoernooi. Sonder julle is so ’n toernooi net nie moontlik nie. Ons wil ’n spesiale woord van dank rig aan die stille helde van skolesport.

Dit is die afrigters, ouers, onderwysers en ondersteunende personeel. Ons waardeer die opoffering wat u maak om naweek na naweek lang afstande te ry om geleenthede soos die by te woon.

Ons wens al die deelnemers sterkte toe met die res van die sportseisoen. Mag elkeen se drome waar word. Geniet die sportseisoen!

Carl Snyman – Skoolhoof, Langenhoven Gimnasium:

Die afgelope naweek se KKS-Gimmies Sport- toernooi was regtig iets besonders. Daar was lekker, kompeterende sport met spanne wat mekaar behoorlik uitgedaag het, maar altyd in ’n goeie gees.

Wat dit ekstra spesiaal gemaak het, was dat baie van die spanne teen mekaar gespeel het wat nie gereeld die kans kry om kragte te meet nie – en dit het vir baie goeie wedstryde gesorg.

Daar was ook mooi oomblikke op die veld waar spelers respek en sportmanskap gewys het, wat mens altyd graag wil sien.

Buiten die sport het die leerders dit net so geniet – van die sokkie tot die saamkuier het beslis bygedra tot die lekker atmosfeer van die naweek.

Alles in ag geneem, was dit ’n baie geslaagde toernooi en ’n naweek wat lank onthou sal word.

Na afloop van elke wedstryd is daar ’n Speler van die Wedstryd gekies. Die spelers het elk-een ’n “goody bag” vanaf KKS ontvang, asook spesiale kouse wat hulle die res van die naweek kon dra as bewys van die wonderlike prestasie. Bo, links staan Liebe Ungerer van Langenhoven Gimnasium en Milani Mtukela van Hoërskool Oudtshoorn, wat as Speler van die Wedstryd gekies is.

Rugby

Hokkie

Netbal