
André van Greunen, eienaar van Pennypin-chers wat nou weer Timbercity word. Regs is Van Greunen saam met Zac du Plessis met die opening van Timbercity in 1994.
DIE Pennypinchers-winkel op Oudtshoorn word einde April 2017 ’n Timbercity-winkel!
André van Greunen, eienaar van die winkel sê, hoewel die naam gaan verander, sal die produk- reeks wat by Pennypinchers beskikbaar is, net so behou word by Timbercity en kan daar selfs mettertyd produkte bykom.
Hy bly ook op presies dieselfde voorwaardes as wat die geval met Pennypinchers was, die konses-siehouer van Timbercity.
Beaufort-Wes se Pennypinchers, wat ook aan Van Greunen behoort, gaan op dieselfde grondslag ’n Timbercity-winkel word.
In ’n skrywe onderteken deur André de Jager, van Steinbuild, divisionele bestuurder: Citiwood & Franchising, meld hy dat alle Pennypinchers-winkels reg oor Suid-Afrika en Namibië na Buco verander. De Jager en George Sentoo van Steinbuild: operasionele uitvoerende beampte) het Van Greunen einde
Februarie besoek waar die volgende besluit is:
“Pennypinchers Oudtshoorn gaan omgeskakel word na ’n Timbercity winkel vanweë ’n strategiese besluit wat deur Steinbuild geneem is om ’n winkel met ’n volledige reeks melamien- en spaanderbord, gevormde toonbankblaaie, en strukturele hout- en bouprodukte op Oudtshoorn te hê.
“Die huidige handelsooreenkomste bly dieselfde aangesien die regspersoon dieselfde bly. Dié winkel sal steeds voordeel trek uit die huidige Steinbuild-aankoopooreenkomste en alle ander voordele in hierdie opsig.”
“Die bankbesonderhede en al die ander besonderhede sal dieselfde bly.”
André van Greunen Building Material Trust t/a Pennypinchers word dus André van Greunen Building Material Trust t/a Timbercity.
De Jager skryf voort: “Ons glo en vertrou u sal assosieer met Timbercity as nasionale handels-merk en deel van die Steinbuild Groep. Ons bedank u graag vir u ondersteuning in die verlede en sien daarna uit om in die toekoms nou met u saam te werk.”
Van Greunen sê hy is inderdaad trots en vol geesdrif vir die toekoms. Timbercity is vir hom immers ’n ou bekende! Sy vrou, Lulu, en dogters, Tessa, Donna-Lida en Petro, is saam met hom by die besigheid betrokke.
Van Greunen, wat in 1976 by PG Building Supplies/PG Bison begin werk het, het 18 jaar later, in 1994, die besigheid by PG Bison gekoop en dit tot 2006 bedryf as ’n Timbercity, wat toe al ’n wye reeks boumateriale met houtprodukte verskaf het.
In 2006 is die winkel na ’n Pennypinchers- winkel omgeskakel. “Ná jare lojale diens aan die bouers en gemeenskap keer ons terug na waar ons begin het -Timbercity.”
Van Greunen, wat op Oudtshoorn gebore en getoë is, is bekend daarvoor dat hy baie betrokke by die Groter Oudtshoorn se gemeenskap is en verskeie groot sportgeleenthede borg, onder meer die Ostrich Classic Gholftoernooi (26 jaar), die jaarlikse fietsren waar fietsryers vir die Cape Town Cycle Tour (voorheen Argus) kan kwalifiseer, en die Klein Karoo Toutrektoernooi wat deur die Oudtshoorn Vaardigheidskool aangebied word. Hy is ook as borg by verskeie skole betrokke.
Van Greunen sê daar gaan binnekort ’n groot uitverkoping van Pennypinchers-produkte wees.
Die nuwe Timbercity gaan op Dinsdag, 23 Mei 2017, amptelik in gebruik geneem word met ’n groot kliënte-onthaal waar soveel as 400 gaste verwag word en beloof om ’n lekker dag en aand vol pret en plesier te wees.