Oudtshoorn Besigheidskamer hou AJV en kies nuwe bestuur

’n Nuwe bestuur vir die Besigheidskamer is ook tydens die vergadering verkies, voor van links: Donna-Lida van der Berg, Wilma Pienaar, Hennie Davel, Abri Ferreira. Agter van links is: Suné Rupping, Angelique Erasmus, Hans van der Veen, Liesel le Roux, Herman Engelbrecht, Franklin Cupido en Zac Lipschitz.

Die Oudtshoorn Besigheidskamer (OBK) se algemene jaarvergadering (AJV) het op Donderdag 26 Februarie by Die Neelsie in Oudtshoorn plaasgevind, waar sakeleiers en rolspelers uit die plaaslike sakegemeenskap bymekaargekom het.

Tydens die vergadering het, Abri Ferreira (voorsitter), in sy toespraak beklemtoon dat die Besigheidskamer die afgelope vier jaar hard gewerk het om bande te bou met verskeie rolspelers soos die Oudtshoorn Munisipaliteit om ontwikkeling in die dorp te bevorder.

Hy het ook verwys na die rol wat die Besigheidskamer speel om toerisme in die dorp te help groei, onder meer deur blootstelling op televisieprogramme soos Ysters op die Platteland.

Volgens Ferreira lê die krag van Oudtshoorn se sakegemeenskap in hul waardes en werksetiek.

“Ons almal kom uit grond – grond van Afrika, grond van Suid-Afrika. Ons voorvaders het ’n standaard gelos en gewys wat dit beteken om te werk, om te bou en om te dra. Ons het nie ’n erfenis gekry om net te hou nie, maar om dit te verbeter en daarop voort te bou.”

Hy het gesê nalatenskap lê nie net in een geslag nie, maar in karakter.

“Ons dra nie net ’n besigheid en ’n naam nie – ons dra ’n manier van staan, ’n manier van werk en ’n manier om regop te bly wanneer dinge skeef loop.”

Ferreira het verder beklemtoon dat Oudtshoorn se toekoms in sy mense lê.

“Oudtshoorn is nie iets wat iemand vir ons gee of kan wegvat nie. Dit is iets wat jy leef. Soos ons logo sê: Ek IS Oudtshoorn.”

Hy het ook die plaaslike sakegemeenskap bedank vir hul betrokkenheid by die gemeenskap deur middel van fondsinsamelingsprojekte, gholfdae, diensorganisasies en hulp in tye van nood.

Die Besigheidskamer het ook hul steun uitgespreek vir die 30-jaar mylpaal van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en die rol wat die fees in die plaaslike ekonomie speel.

“Oudtshoorn staan voor ’n moeilike pad, maar ons staan nog en ons is nog sterk. Oudtshoorn is nie perfek nie, nie foutloos nie, maar gevorm,” het Ferreira gesê.

Hy het die aand afgesluit met ’n boodskap van hoop:

“Die son kom elke dag op. Al was daar dae wat donker gevoel het, weet ek die son gaan weer skyn. Lig jou ken en ken jou lig.”

Die aand is deur Kunste Onbeperk geborg, en bemarkingsbestuurder JC Aucamp het vir gaste ’n “sneak peak” gegee oor wat by die jaar se KKNK te wagte is.

Dit is inderdaad ’n fantastiese fees met baie verrassings en selfs verskeie Engelse aanbiedinge. Daar is ook tans ’n spesiale promosie vir Oudtshoorniete wat tans R590 kos in plaas van R840. Die promosie is tot 27 Maart beskikbaar. (ANGELIQUE ERASMUS)