Kolwyntjies vir die 21ste verjaardag!
Gerhard Joubert, hospitaalbestuurder van die Mediclinic Klein Karoo, en personeellede
wat al 21 jaar in diens van die hospitaal is! Hulle is van links Belinda van der Westhuizen, Maria Wagener en Herculine Vermaak. Andrie Wiese wat ook 21 in diens is van die hospitaal, was afwesig. Gerhard Joubert het vier maande gelede by die Mediclinic Klein Karoo aangesluit. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE Mediclinic Klein Karoo vier vandeesweek hul 21ste bestaansjaar op Oudtshoorn.
Werknemers is Woensdag bederf met heerlike kolwyntjies en Donderdag met tuisgemaakte sop en vars brood.
Dié privaat-hospitaal is bekend vir die hoë gehalte-diens wat dit aan inwoners van Oudtshoorn, die omliggende omgewing asook aan internasionale pasiënte bied.
“Ons streef daarna om goeie kliniese sorg aan ons pasiënte te verskaf, asook ’n goeie werksomgewing vir ons personeel,” sê Gerhard Joubert, hospitaalbestuurder van die Mediclinic Klein Karoo.
Aanbouings vir ’n nuwe chirurgiese vleuel word tans by die Mediclinic gedoen wat die hospitaal se totale aantal beddens op 50 te staan sal bring.
Addisionele spasie sal beskikbaar wees vir nog 12 beddens, sou dit in die toekoms benodig word.
Die Mediclinic beskik oor ’n intensiewe sorgafdeling, ’n kraamsaal, pediatriese en chirurgiese afdelings, teaters en ’n algemene saal.
Omring met pragtige tuine, in ’n stil area, kry mens nie die gevoel dat jy in ’n hospitaal is nie. Daar loop gereeld bergskilpaaie en ander wildlewe in die omgewing rond.
Die Mediclinic bied ook die dienste van fisioterapeute, spraakterapeute, dieetkundiges, patoloë asook ’n radiografie-afdeling, wat dit vir Oudts-hoorniete onnodig maak om na George of ander dorpe te reis vir sulke dienste.
ER24 het ook onlangs by die Mediclinic aangesluit en het kantore op die perseel.
Die hospitaal huisves ook ’n vleuel met spreekkamers vir dokters en spesialiste, asook ’n kantoor vir besoekende dokters.
“Ons sien uit na nog 21 jaar saam met die mense van Oudtshoorn, en om aan hulle diens en bystand te verleen in die herstelproses,” sê Andrie Wiese eenheidbestuurder.
Sy het ook die hospitaal se bekwame personeel bedank vir hulle jarelange diens en bydraes om die hospitaal suksesvol te maak.
“Dankie ook aan die dokters vir hulle goeie diens en aan al ons pasiënte wat van ons diens gebruik maak en hul vertroue in ons plaas.”