Uit die raadsaal
Deur Liesel le Roux
DIE raad van die Groter Oudtshoorn het by ’n raadsvergadering verlede Vrydag besluit om weer vir tenders te vra vir ontwikkelingsvoorstelle vir ’n stuk grond van 15 ha net buite Oudtshoorn by die driehoek waar die paaie vanaf Mosselbaai en Calitzdorp bymekaarkom (gedeelte van Erf 5366).
Die stuk grond is in 2006 na ’n tenderproses aan ’n ontwikkelaar toegeken wat beoog het om ’n winkelsentrum en behuisingsontwikkeling daar op te rig. Die raad en die ontwikkelaar het egter in ’n regsgeding betrokke geraak oor ’n naams- en ledeverandering van die maatskappy betrokke en die ontwikkeling het nie gerealiseer nie.
In 2017 het die raad weer besluit om tenders te vra vir die ontwikkeling van die stuk grond; die keer vir ’n Agripark, winkelsentrum en behuising. Dit het egter nie gerealiseer nie omdat so ’n ontwikkeling nie sou voldoen het aan die vereistes van ’n goedgekeurde omgewingsimpakstudie wat voorheen reeds vir die grond gedoen is nie.
SA Tweekamp in 2020 op Oudtshoorn
Die Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskap sal in 2020 op Oudtshoorn plaasvind nadat die raad ’n versoek in dié verband van Eden Tweekamp goedgekeur het. Die kampioenskap is in 2013 ook baie suksesvol op die dorp aangebied.
14 provinsiale spanne sal op die dorp kom deelneem en volgens die raadsagenda ’n ekonomiese inspuiting van sowat R3 825 000 vir Oudtshoorn beteken.
Volgens die raadsagenda sal die kampioenskap oor die volgende agt jaar elke tweede jaar in die Eden Distrik aangebied word.
Inwoners mag koppie omhein
Die raad het by die vergadering inwoners van Bloemstraat toestemming gegee om die Van Riebeeckkoppie aangrensend aan Oostelike Weg op eie koste te omhein, te beveilig en in stand te hou.
Volgens ’n brief van die inwoners aan die munisipaliteit is die gebied onveilig en onhigiënies. Volwassenes, kinders en straatmense maak hulle gereeld daar tuis, drank en dwelms word daar verkoop, terwyl seksuele aktiwiteite snags plaasvind.
Tuinvullis en rommel word ook daar gegooi, terwyl mense dit gereeld gebruik as openbare toilet.
Besluit oor grond langs Gotlandhuis
Tenders vir die ontwikkeling van die oop stuk grond (Erf 2156) langs Gotlandhuis gaan deur die Oudtshoorn Munisipaliteit gevra word sodra dié eiendom weer op hul naam oorgedra is. Die stuk grond is 4 1343 vierkante meter groot.
Die grond is baie jare gelede vir R25 aan die ACVV verkoop, waarna die ACVV volgens die raadsvergadering ’n aanbod van R2 miljoen daarvoor ontvang het. “Dit was nooit die intensie van die raad om die grond vir ’n nominale bedrag te verkoop sodat organisasies wat daarvoor kwalifiseer daarmee kan spekuleer nie,” lui die agenda.
Die eienaarskap van die grond word tans terug oorgedra na die munisipaliteit.