DIE Timbercity Klein Karoo Sake-aflos op Maandag, 2 Maart, vind vanjaar nie meer in Baron van Reede- straat op Oudtshoorn plaas nie, maar op die Rec (Oudtshoorn Sportgronde) en die Hoërskool Oudts-hoorn se sportveld.
Die sakeaflos wat deur die Klein Karoo Atletiekfonds aangebied word, is ’n vrolike geleentheid waar almal van Oudtshoorn mekaar beter kan leer ken terwyl almal oefening kry.
Spanne bestaande uit onder meer besighede se personeel, leerders, die SAPD, die SANW en ander openbare instellings, asook professionele be-roepe kan inskryf. “Almal wat wil kom deelneem, is welkom,” sê Dave van der Walt van die KKAF.
Dit is die 3de jaar dat Timbercity die byeenkoms borg. Elke deelnemer wat klaarmaak kry ’n medalje terwyl die wenspanne in elke kategorie goue medaljes ontvang.
Daar is ook ’n kategorie vir “Fancy Dress” geborg deur Santa Fe Spur met ’n lekker prys vir die wenner.
Daar is ook “lucky draw”-pryse voor die amptelike prysuitdeling plaasvind.
Spanne van ses drawwers of vier stappers kan vir die sakeaflos inskryf.
Elke lid van ’n span lê 2 km af.
Mansspanne, vrouespanne en gemengde spanne (twee mans en twee vroue) asook hoërskole-, laerskole en gestremdespanne kan inskryf.
Daar mag meer as een span per instansie ingeskryf word! Die koste is R150 per drafspan en R100 per stapspan (dus R25 per deelnemer).
Inskrywings kan elektronies gedoen word by www.edenmiles.co.za. Vul die vorm volledig in en e-pos na davesus@telkomsa.net of davesusvdw@gmail.com. Vorms kan ook by Van der Walt aangevra word.