Deur Liesel le Roux
ONTWIKKELING en belegging op Oudtshoorn is noodsaaklik sodat die dorp ekonomies kan groei en die belastingbetalende inwoners wat die dorp se finansiële laste dra, kan vermeerder.
So het die voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, Gideon Badenhorst, Dinsdagaand by ’n maandelikse netwerkaand gesê.
Badenhorst het by die vergadering ’n uitnodiging aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gerig om saam met die Besigheidskamer te werk aan inisiatiewe om die dorp se ekonomie te laat groei. “Ons wil graag weet wat die Besigheidskamer kan doen om saam met die munisipaliteit beleggings na Oudtshoorn te trek,” het hy gesê.
Badenhorst het gesê dat dit ter wille van die toekoms van Oudtshoorn noodsaaklik is dat die spreekwoordelike gans wat die goue eiers lê, “groter gemaak moet word.”
Die hoof finansiële beampte van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Felix Lötter, het tydens ’n voorlegging die aand aan die Besigheidskamerlede daarop gewys dat daar geen groei is in die dorp se belastingbasis nie, en dat die gevaar bestaan dat verhogings in tariewe die “gans wat die goue eiers lê” se nek kan omdraai.
Volgens Lötter het Oudtshoorn en Mosselbaai baie dieselfde inwonertal, maar is Oudtshoorn se belastingbasis R10,3 miljard sterk teenoor Mosselbaai se belastingbasis van R30 miljard. Dit is volgens hom een van die redes waarom Mosselbaai laer tariewe kan hef.
Lötter het ook daarop gewys dat die verskaffing van RDP-huise aan inwoners ’n verdere finansiële las op die munisipaliteit plaas.
“Nuwe RDP-huise bied byvoorbeeld geen inkomste vir die munisipaliteit nie. Elke persoon wat nie vir munisipale dienste kan betaal nie, plaas ’n finansiële las op die munisipaliteit. Elke 700 nuwe RDP-huise is verantwoordelik vir ’n styging van 5% in die las op die belastingbasis.”
• Volgens Badenhorst het die Besigheidskamer die ekonomiese groei van Oudtshoorn as ’n prioriteit geïdentifiseer en hou die kamer Vrydagoggend ’n strategiese beplanningsessie hieroor.
• Meer oor Lötter se terugvoer op bladsy 2.