met Arno Greyling
Die afgelope Sondag het die Meksikaanse Grand Prix plaasgevind. In die proses is Lewis Hamilton gekroon as die wêreldkampioen met nog ’n paar wedrenne wat voorlê.
Die aanhangers van die sport sal weet dat die verskil tussen wen en verloor breukdele van ’n sekonde kan wees.
Verskillende tipes taktiek word vooraf bepaal en dan moet daar ook nog ’n paar bykomende planne wees wat vir die onverwagte voorsiening moet maak. Die een daarvan is die besluit wat geneem word rakende die bande wat gebruik word tydens die kwalifiserende rondtes asook die bande wat op die dag van die wedren dan beskikbaar sal wees.
Die spanne word beperk wat die aantal stelle bande betref. Hulle word ook gedwing om al drie die verskillende tipes bande te gebruik wat Pirelli voorskryf.
As daar in ag geneem word dat die verskil in topspoed tussen die drie oorheersende spanne (Ferrari, Mercedes en Red Bull) slegs 13 km/h is, kan bande die deurslaggewende rol speel om die wenner te bepaal.
En dit bring my by die volgende punt. Die spoed waarmee hierdie bande geruil word asook die tydstip waarop dit gebeur tydens die wedren is van kardinale belang. Wat gebeur dus in die kuipe met die ruil van bande?
Die amptelike vinnigste tyd om die vier bande te ruil, is opgestel deur die Williams-Mercedesspan wat in 2016 Felipe Massa se bande binne 1,98 sekondes geruil het. Tydens die afgelope Meksikaanse wedren was die vinnigste tyd 2,1 sekondes.
Daar is gemiddeld 21 tegnikuste by die proses betrokke. Die eerste een word die “lollipop-man” genoem. Hy gee instruksies aan die renjaer oor waar om stil te hou en wanneer die motor weer in rat gesit kan word om weg te trek.
Daar is al ’n paar omgery, maar gelukkig niks ernstig nie. Dan is daar twee manne wat die dom-kragte hanteer. Daarmee word die motor voor sowel as agter van die grond gelig.
Twaalf rakkers is betrokke by die fisieke omruil-proses, drie per wiel. Die een hanteer die “wheel gun” wat die wielmoere los maak, die volgende een haal die ou band af en die derde een plaas die nuwe band op sy plek waarna die eerste man weer die wielmoere vasmaak. Als binne twee sekondes!
Nog twee kêrels staan aan elke kant van die renmotor en verskaf stabiliteit terwyl die motor in die lug is. Dan is daar ook nog twee tegnikuste wat die voorste drukvlerkie moet verstel indien die renjaer die motor se balans wil verander.
Daar word nie meer brandstof ingegooi in die kuipe nie. Dus is die risiko van brand aansienlik minder, maar daar staan steeds ’n man met ’n brandblusser gereed vir enige gebeurlikhede.
F1-motors het nie aansitters in die kajuit nie, dus is daar ook een tegnikus gereed om die enjin weer aan die gang te kry indien die renjaer die enjin stol – iets wat baie selde gebeur. Die manne verantwoordelik vir bogenoemde is seepglad en uiters goed gedril. Die fout wat die algemeenste voor-kom, is wanneer die renjaer nie sy motor op presies die regte plek tot stilstand bring nie. Dit beteken dat alles moet geskuif word, al is dit net 20 tot 30 cm, wat tot 0,60 sekondes vertraging kan lei.
Dit, in ’n neutedop is wat in die kuipe gebeur.
Moet asseblief net nie dieselfde verwag van ons plaaslike bandemanne nie! Hulle het darem altyd ’n goeie koppie koffie te bied terwyl jy wag.
Tot ’n volgende keer.
Groetnis.