Brief: Vat die pad saam met Arno Greyling

Waar kom die dubbelkajuit vandaan?

Nee, dit was nie Toyota wat geboorte geskenk het aan die konsep van ’n bakkie wat ook passasiers kan akkommodeer nie.

En wat interessant is, is dat daar nou soveel meer vervaardigers is wat op die wa (of sal ons dit nou die “bakkie-wa’’ noem) spring om bakkies, en dan spesifiek die dubbelkajuitformaat, op die mark te plaas.

Daar is nou onlangs in die pers berig oor Mercedes wat sy nuwe X-klas bakkie Suid-Afrika toe bring. En dit is basies ’n Nissan Navara in ’n Mercedes Benz-gewaad. Onder die enjinkap brul enjins van Renault-oorsprong. Vreemde affêre.

Renault is ook op pad met ’n dubbelkajuitbakkie wat se gesig baie aan die Duster herinner.

Fiat het sy reeks bakkies al bekend gestel. Korea (Hyundai, en op sy hakke Kia) volg ook in die nabye toekoms met hul dubbelkajuitbakkies. Gerugte uit Europa is dat Audi, Opel en BMW ook hul visier op die dubbelkajuitmark het, met Volkswagen wat al hul tweede ge­nerasie Amarok binnekort loslaat.

So, waar kom die dubbelkajuitformaat vandaan?

Hier in Suid-Afrika was dit Datsun wat die eerste keer in die vroeë 70’s die bakkie se kajuit gerek het, wat later bekend sou staan as die “King Cab”. Maar internasionaal het die formaat sy oorsprong in Australië in die dertigerjare.

Die storie is dat ’n boervrou van Gippsland, in die Australiese streek Victoria, ’n brief aan Ford Australië gestuur het. Sy wou daarin weet of dit nie moontlik is om ’n voertuig te bou waarin hul op ’n Sondag kon kerk toe gaan en op ’n Maandag die varke mark toe kon neem nie.

Ford het werk gemaak daarvan en hul ontwerper, Lew Brandt, het in 1934 die eerste een op die mark geplaas. Die formaat was eers bekend as die C-UTE, ’n kombinasie tussen ’n “coupe” en ’n   “utility”. Chevrolet in Amerika het kort daarna gevolg met die Japanese kort op hul hakke.

Toyota het gevolg in die vroeë sestigerjare met ’n verlengde kajuit-weergawe van die Corona, wat in Suid-Afrika bekend gestaan het as die Tiara. Volkswagen het ook reeds in 1952 ’n bakkie gebou wat beide mense en vrag kon vervoer. Dit was bekend as ’n “crew cab”, ’n term wat vandag nog by VW gebruik word.

Die eerste konvensionele dubbelkajuit met vier deure was die Toyota Stout in 1960. Die dubbelkajuit is egter nooit in Suid-Afrika bemark nie. Die eerste vierdeurdubbelkajuit wat hier die handelaarskappe se vloere versier het, was die Leyland 1900 wat eintlik gebou is deur Daihatsu. Interessant genoeg, is die reeks Leyland-bakkies gebou in Blackheath, Kaapstad, tot in 1984 toe die fabriek daar gesluit is.

Die tagtigerjare het ’n ontploffing ge-sien in die gewildheid van die dubbelkajuitformaat soos ons dit tans ken. En duidelik is dit net aan die toeneem met verskeie vervaardigers wat ook nou toetree. Vandag is die klem egter besig om te verskuif na verfyning in stede van die dra van vrag.

Graag wens ek alle lesers ’n baie geseënde Kersfees toe, met hope guns en seën uit Sy hand.

Tot ’n volgende keer…