Sondag noenmaal. Vandag is dit ‘n “flatty”, gemarineer in ‘n knoffel en rooiwynsous oor die kole gebraai. Die kole is nie sommer hierjy kole nie. Dis hardekool. Die ware Jakob uit die Limpopo bosveld uit. Ek vermoed dis ’n Mosambiek “flashback” wat my lusgemaak het vir hoender. Die Porras kan maar hoender gaarmaak – en natuurlik garnale!
My gedagtes neem soos gewoonlik die loop langs die vuur…na een spesifieke dag in die Zambezi Delta. Dit was ’n Saterdag en ek moes alleen terug Suid-Afrika toe nadat ek jagters by die jagkamp afgelaai het die vorige dag.
Ek is nie presies seker wanneer dit was nie, maar wat ek wel goed onthou is dat dit die pragtigste, skoonste dag in die Delta was. Een van daai dae wat hulle sê as jy lank genoeg stilstaan, kan jy reg rondom die aarde sien en as jy mooi kyk, jy jouself van agteraf kan sien…
Die Zambezi Delta is maar oor die algemeen baie deinserig en die lug vol rook met swak sig tydens die jagseisoen – wat natuurlik nie ideaal is wanneer jy vlieg en plekke uit die lug moet raaksien nie. Hierdie glashelder dag was nie so nie. Seker die knaende seewind die laaste paar dae.
Ek het die Aerostar gelaai met alles wat moet huistoe en alleen in die kajuit ingeklim vir die kort vlug Beira en daarna Pretoria toe via Polokwane vir doeane en immigrasie.
Na die “engine start”, ’n kort taxi af na die houpunt waar jy na ’n skerp 180 grade draai vol krag gee en met die aanloopbaan afjaag. Omtrent reg oor die parkeerarea trek jy die neus op en gou daarna die wiele op – en daar gaan jy. ’n Paar verstellings aan die krag en radios en jy is op koers in die klim, gewoonlik na so 4 000 voet bo seespieël toe. Maar nie dié mooi dag nie.
Net bo die bome druk ek die neus af en hou by ’n hoogte van so 100 voet (30 m) bo die uitgestrekte wildernis. Dit is baie laag. Teen daardie kragstelling loop die Aerostar teen ongeveer 210 knope – m.a.w. net duskant 400 km per uur. Dit is ongelooflik opwindend om so laag en so vinnig te vlieg en alles flits onder jou en die vliegtuig verby.
Ek skakel my iPod aan wat met die klankstelsel in die vliegtuig gekoppel is en soek vinnig na my keuse van musiek. Vandag is dit “Sweet Child O’ Mine” van Guns ‘n Roses. Kliphard. Hoe gepas! Ek luister na die lirieke …
“She’s got a smile that it seems to me
Reminds me of childhood memories
Where everything was as fresh as the bright blue sky
Now and then when I see her face
She takes me away to that special place
And if I stared too long, I’d probably break down and cry”
Te gou is die vlug na aan sy einde en so 20 kilometer buite Beira, moet ek vining klim want die beheertoring sal opgewonde raak as ek so laag en vinnig daar aankom in sy lugruim. Nou ja, gee vol krag en trek die neus baie steil op en binne ’n baie kort tyd is ek en die Aerostar “uitgelevel” op 3 500 voet, lugspoed afgebloei en die man in die beheertoring in sy noppies. Hulle het nie radar nie, so hy kon gelukkig nie my manewales waarneem nie!
Na ’n roetine nadering en landing gaan ek eers gou die brandstoftrok kry en volmaak, dan lan-dingsfooie betaal, ’n vlugplan indien en dan wag my ou vriend Alberto Magaia vir my. Ons gaan bietjie sake gesels en sommer iets te ete kry by die restaurant op die eerste vloer.
Standaard bestelling…“Coca-Cola, galinha e batatas fritas, por favor” – m.a.w. hoender, skyfies en Coke. Ons sorteer ’n klompie reëlings uit en smul aan die eenvoudige, maar baie smaaklike kos.
Dan is dit terug huis toe vir albei van ons… syne natuurlik nader as myne!
Ons groet en ek pak die twee-ure vlug Polokwane toe aan, soos so baie kere tevore. Rustig op so 10 000 voet met een oog op die instrumente en een oog op die weerradar, veral as dit somer word met die donderstorms wat jou lê en inwag op die platorand. En deurentyd is dit met my gunsteling musiek in my ore … tot dit onderbreek word deur die Suid-Afrikaanse lugbeheerders wat beheer neem van jou doen en late oor die landsgrens. Op daardie roete is dit toevalling net mooi oor die berugte “Crooks Corner” waar Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek bymekaarkom. Die plek het ’n unieke, maar berugte geskiedenis. Dink nou net. Jy is ’n karakter op die vlug van die gereg. Watter beter plek om laag te lê as in ’n klein area waar drie lande ontmoet, sodat jy ’n vinnige een kan trek deur oor die grens te spring?
Ek het hierdie vlug die laaste keer gedoen op 26 Augustus 2011 in my Aerostar ZS-PDN. Ek mis dit soms…(Deur Johan Strasheim)

Beira lughawe met die beheertoring in die agtergrond. Foto: Johan Strasheim

Aerostar laag en vinnig. Foto: Johan Strasheim

Afrika se wolkies van bo af. Foto: Johan Strasheim