Deur Tania Smit
As jy steak wil eet, dan maak jy dit self. En jy doen dit ordentlik, met passie, of jy los dit eerder en maak ’n vrugteslaai vir aandete. Want steakmaak is nie geskik vir ’n halfhartige probeer nie; dit moet altyd ’n kom-kyk-besigheid wees.
Eerstens ry jy en gaan koop ’n ordentlike steak by ’n ordentlike slagter – nie daai vacuum-packed vaal manne in die supermark wat lyk of hulle nog deur heinings kan hol as hulle die kans kry nie.
Jy gaan soek ’n slagter met groot voorarms en ordentlike kuite, wat van Namibië of die Karoo af kom, of Duits praat … daai is gewoonlik die siele wat kén van vleis. En kies vir jou ’n dik stuk met ’n vetjie aan. Nie Obelix-vet nie, net ’n duidelike gedagte van vet …. want daarin lê die grootste lekkerte van steak eet.
En as jy gaan betaal by die besige tannie met die wit overall en die haarnet aan (wat gou till toe gaan skoffel as sy jou sien aankom), dan staan jy sterk as jy die prys hoor, want ordentlike vleis kos ordentlike geld. En jy betaal met ’n smile, en sit sommer daai stukkie droëwors by wat vir jou so loer langs die till – hy eet gewoonlik lekker op pad huis toe.
Ek love ’n vuur, maar as dit by steak kom, gebruik ek gas, en my swaarboompan. En ek behit hom met daai vlam terwyl ek vir my ’n glas rooiwyn skink en ietsie moois opsit om na te luister – soos Snow Patrol of Fleetwood Mac (dat mens jou boude kan wikkel terwyl jy kosmaak). En as die pan vuurwarm is, gooi jy ’n skeutjie olyfolie by (vir nie aanbrand nie), en ’n knoetsie botter (want alles proe beter met botter).
En dan kom die grootste oomblik van steakmaak: jy tel daai heilige stuk pragtige steak op, en sit hom met ’n tang op sy vetkant neer in die pan. Hy gaan gil van skrik, maar jy gaan moet vasstaan, en hom regop hou. Daai vetjies gaan begin uitbraai en meng met al die juices in die pan, en as dit so deurskynend raak, daai vetjie, en crispy en bruin op die kant, dan moet die borde regstaan, sus se slaai en die garlic mash al klaar wees, en almal klaar geroep en aangekom wees, want dan is jy in die pylvak.
En terwyl die kinders vensters en deure oopgooi vir al die rook, vryf jy gou daai steak deur al die uitgebraaide souse in die pan en braai hom op elke kant. Nie meer as twee keer op ’n kant nie, want dan vervies hy hom vir jou en word halsstarrig (en halsstarrige steak is nooit lekker nie). En voel hom aanmekaar … hy moet nog toegee as jy hom voel, en eers gesout word as jy ’n kant geseël het … Maldon-sout (of nog beter; gerookte Maldon-sout as jy kan kry), of growwe sout. Want steak is nie vir fyn sout gemaak nie (fyn sout is vir kos soos tunaslaai en gebakte aartappels).
En nes jy dink daai steak is nog net te rou, dan is hy reg. Want steak is ’n ding wat werk terwyl hy rus. Ten minste drie minute moet hy daar op die houtbord staan en in vrede gelaat word terwyl niemand vir hom kyk nie. Sodat hy sy postuur kan terugkry. En sy kieste kan ontspan. En jy nog wyn kan gooi, en kan lekker wees met jou mense.
En dan, as alles en almal uiteindelik rustig is, en al die rook uit die huis uit, vat jy ’n vlymskerp vleismes, en jy sny vir hom in skuins skywe. Dik skuins skywe, nie dunnes nie. En jy sit vir elkeen daai skywe lekkerte op ’n bord. My seun gooi altyd nog ’n teatrale beweging Maldon-sout oor. En dit werk vir my, want dis net lief, en proe heerlik.
En dan eet julle, net soos elkeen begeer.
In ons huis eet ek en die kinders steak met ons vingers, op klein bordjies. Elkeen met ’n toring se eie lekkerkry, op sy lekkerste plek, by homself, en beleef.
As jy daar klaar is, gaan jy voel jou hart voel lekker. En die aand is mooi. En die lewe goed.
En juis oor daai rede, as jy steak wil eet, dan maak jy dit self. Want jy eet die hele reis, en die passie, die beleef. En dit, daai deeltjie, is waaroor lekker eet mos eintlik gaan.