Deur Liesel le Roux
’n Week is partykeer ’n baie lang tyd.
Soos die week sedert Woensdag 7 Junie – net meer as ’n week gelede om presies te wees – toe die inferno in Knysna en ander dele van die Tuinroete begin het. Die gebeure van daardie dag en die dae daarna het elke mens in die Suid-Kaap geraak.
Van ons het familie en vriende daar gehad. Van ons het die Woensdag en Donderdag boodskappe ontvang van vriende wat sê hulle huise is aan die brand. Die meeste van ons ken iemand wat alles verloor het.
Die brande langs die Tuinroete en die woeste winde van verlede week in ook die Klein Karoo, die verwoesting en trauma wat daarmee gepaard gegaan het, het binne net ’n paar dae ’n verandering in almal se lewens wat hier woon gebring.
Dit het ons almal gewys hoe tydelik dinge is; en hoe vinnig mense se lewens kan verander.
Dit het egter ook die goedheid in mense na vore laat kom. (Ja, daar was die wat gaan steel het, die wat vals nuus en beskuldigings versprei het, en die nuuskieriges wat met gulsige oë gaan kyk het … maar gelukkig was hulle in die minderheid.)
In Oudtshoorn en die res van die Suid-Kaap, maar ook in die res van Suid-Afrika en selfs uit die buiteland het mense se harte oopgegaan.
Kundiges het gaan help – kos gegee, mediese hulp verleen, voorrade aangery, brande gaan help bestry, diere en bejaardes en siekes gaan help. En die ander, derduisende van hulle het bygedra met skenkings, soms uit die min wat hulle self het.
Hierdie goedheid het net uitgeblom.
Daar is nie eers vergaderings gehou, of gestry of gewonder nie – mense het net gedoen en gegee.
En dit het baie van ons se geloof in ons medemens weer herstel.