’n Blink hart vir môre se oorbegin

Deur Tania Smit

Deur Tania Smit

Ek dink elke ouer loop met die ingeboude vrees dat jou ouerskap-offer nie genoeg sal wees vir jou kinders nie. Dat jy iewers ’n groot seer gaan los in jou kind se hart omdat jy dalk te veel on­ge­duldig was, nie genoeg geluister het nie, nie genoeg langs die baan was nie, te veel slegte dae gehad het, nie weet sy gunsteling kleur het verander nie – die lys is teerpaaie lank.

En die dag as jy ’n enkelouer word, gaan bou daai vrees ’n groot huis in jou hart en maak homself daar tuis. Want een is nie twee nie, en jy weet dit. En daai weet gaan sit vlak in jou keel en diep in jou hart.
Van daai dag af moet mens jou output verdubbel, maar jou input word hal­veer. Want jy’s net een ouer onder een dak, nie meer twee nie. Een mens wat kan luister, een mens wat kan gee, een mens wat kan liefhê, een mens wat kan vashou of grappies maak of speletjies speel of saamswem of dissiplineer of sterk staan. En een mens wat diep kan kyk en raaksien. Een mens wat besluite kan neem op daai oomblik. Net een.

Jy stryk jouself uit so breed en vêr soos die see, gaan haal jou beste ander­kant die sterre, maar jy voel net altyd te min. Want as jy ’n pa is, kan jy nie ’n ma wees nie. En as jy ’n ma is, kan jy nie ’n pa wees nie. Jy kan net nie. En twee dakke is nie een nie. En twee Kersfeesetes is nie een nie. En mens is vir die res van vir altyd besig van jou hart se drade uit te ryg om daai seer vir jou kinders toe te werk.

En na elke dag van probeer vat ek maar ’n blinklappie, en gaan sit ek langs hulle slaaplyfies en vryf hulle harte weer blink. Sodat ons môre weer skoon kan begin. Soms kan ek die slegte mer­kies uitvryf met lang probeer, maar soms kom daar enetjie by wat agterbly, wat vir altyd geskryf staan op hulle hart. Ten spyte van my beste probeer.

En dan gaan tel ek maar my some op oor die wêreld se grense, vou myself toe in ’n slaapbondeltjie, en gaan droom verby die maan om weer my hoop en moed te gaan haal vir môre.

En terwyl ek oor die sterre heen vlieg, gaan haal Hy my en sit my voor sy voete, en herhaal hy sy belofte vir my.
En sê:
“My kind, julle is myne.
Wees sterk en dapper;
moenie bang wees of bewe nie,
want Ek sal saam met jou gaan;
Ek sal jou nie in die steek laat nie.
Ek sal jou nooit verlaat nie.”

En Hy hou my vas en troos my. En vryf my hart blink vir môre se oorbegin.
En met die maan se strale wat op my skyn, stort die huis van vrees in my hart ineen, net daar. Want ek is nie net een ouer onder my dak nie. Ons is twee. ’n ma en ’n pa. ’n Almagtige pa, wat alles sien, en oor alle grense heen kan liefhê. En ons twee en ons blinklappies, ons sal in hierdie ouerhuis, onder hierdie dak, genoeg wees.