Moeilikheid kom nie in dun straaltjies nie

Nou ja, dit is half tien in die nag en my hele korttermynplan het pas in duie gestort. Die kliënt en my span is gestrand iewers diep in die Miombo-oerwoude langs die Zambesirivier se vloedvlakte en hulle moet vanaand terug en ons moet môre terugvlieg Pretoria toe want Mike moet môre-aand op die Delta-vlug Atlanta toe wees. Tyd vir ernstig vasvat …

Ek is skielik wawydwakker en vol adrenalien en die reëlings gaan blitsig.

Die Land Cruiser word gelaai met alles wat nodig mag wees: sleeptoue, kettingsaag, kapmesse, spaarwiele, petrol, water en natuurlik ’n “koelboks” en ’n sak met eetgoed. Ek weet nie wanneer die klomp laas iets oor hulle lippe gehad het nie. O, en die geleende fiets is natuurlik ook agterop met drie manne om te help met wat ookal nodig is.

Alles word nagegaan, die span in die kombuis is op bystand terwyl die aand-ete warm gehou word vir later – wanneer dit ook mag wees!

Ou Renamo verduidelik waar hulle naastenby is en ons is gou op pad, maar op die bospaadjies in die nag gaan dit maar stadig. Ons het nie nog ’n “breakdown” nodig nie.

Ná sowat ’n uur en ’n half is dit net na elfuur en ons het so dertig kilometer afgelê, toe ons ’n gefluit en ’n geskreeu hoor voor in die pad met al wat flits en kopliggie by hulle is wat soos vuur-vliegies in die totale duisternis rondwip. Hulle het ons natuurlik ver gehoor en die ligte sien aankom, want die bos is doodstil met geen mensgeraas nie.

Die klomp is opgewonde en baie bly. Die manne swaai opgewonde arms en ek ry stadig nader.

Die eerste klein detail wat ek opmerk is die kliënt (Mike) se groot oë waar hy in die middel van die bakkie se agtersitplek sit! (Hy is later lekker gespot daaroor want ek dink hy was vreesbevange. Dit is darem baie ver buite sy “comfort zone” om so gestrand te wees.)

Die bakkie se elektriese stelsel het opgepak en die ekspedisie het ure vroeër net daar tot ’n einde gekom.

Ons laai alles oor wat saakmaak en sleep die stukkende bakkie tot by die naaste “village” en laat dit daar. Die ouens sal daaraan aandag gee in die daglig wanneer enige sulke probleme gewoonlik as baie minder erg ervaar word.

Die rit terug is baie lawaaierig en die klomp is natuurlik baie verlig. Toe ons so eenuur die volgende oggend in die kamp kom, is almal honger en dors. Die voertuig word afgepak en almal gaan reguit eetkamer toe. Daar sal ek toe uitvind Mike, die Texan, het intussen geleer brandewyn en Coke drink!

Mike het seker gedink dis sy einde die aand, want hy is uit sy vel uit oor die ervaring en gevolglik wil hy eers vir almal ’n dop skink om dankie te sê vir sy safari en die reddingspoging. Nou ja, ons laat hom maar begaan.Toe hy die drankies aandra kamp-vuur toe, sien ek sommer die ou het nie gespeel nie. Hierdie brandewyn en Coke is die kleur van flou rooibostee, met ander woorde so sterk jy loop die risiko dat dit jou stopsels kan losmaak as jy dit te lank in jou mond hou. Daar word heildronke ingestel op alles en nog wat: van Texas tot Mosambiek, buffels en bullybeef, brandewyn en braaivleis.

Skuins ná tweeuur die oggend druk ek die span in die eetkamer in vir aand-ete. Hulle kuier te lekker, maar ek moet oor ’n paar ure weer vir Mike veilig op OR Tambo-lughawe besorg. Vertrektyd is gewoonlik so agtuur in die oggend, met ander woorde oor net meer as vyf ure en die afgelope dag was reeds nie kinderspeletjies nie.

Die manne in die kombuis kon die lekkerste kos met die minste hulpmiddels maak en die gebakte vlakvarkboude daardie aand was geen uitsondering nie. Dit is steeds onverstaanbaar hoe hulle wildsvleis so vining en sappig gaarmaak op ’n basiese klein houtstofie.

Dit was ’n baie lang dag en ek is gedaan en jaag almal bed toe. Ons is eintlik al diep in die kalmte van die nanag in en oor net meer as drie ure moet ons weer opstaan. Anders as die spul in die kamp wat dit kan rustig vat, moet ek met passasiers terugvlieg Pretoria toe. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Ek dink ek was vas aan die slaap nog voordat my kop op die kussing was.

Ná ’n paar minute – of so voel dit – skrik ek wakker. Ek sien deur die venster van die slaapkamer dat dit al lig is buite. Die klein wekkertjie langs my bed laat my regop sit – dit is al sewe-uur! Die kamp is so stil soos die graf en my oë voel of dit vol sand is. Ongelukkig ken ek hierdie onheilspellende, kalm oggendstilte in die kamp …

Ek loer by die deur uit en my ergste vrese is bewaarheid – die hele area is toe onder ’n laag klam, spierwit, dik mis wat dit onmoontlik gaan maak om op te styg by die kamp en sou jy kon opstyg en Beira is ook onder die mis, kan jy nie daar land nie.

Duidelik is die moeilikheid nog nie agter die rug nie en die straal word nou sommer vining al hoe dikker …