Kortverhaal: Watergraf

Deur Johnny Malgas

Die klop teen die deur laat hom vir ’n oomblik opkyk.
Hy sien die beweging van lig onder die deur.
Stofstrepe spartel in sy rigting.
Hy kyk terug na die vergeelde bladsy in sy hande.
Hy weet daar sal nie nog ’n klop kom nie.
Hy neem die pen en begin verder skryf.
“ Ek is jammer…”
Weer is daar ’n klop aan die deur.
Dit laat hom koud.
Niemand klop ooit twee keer nie.
Teen hierdie tyd weet almal dat hy nie meer gepla wil word nie.
Hy sit doodstil en staar na die deur.
Asof hy dit met sy gedagtes wil toespyker.
Toespyker teen al die leuens en feëverhale daar buite.
Toespyker teen al die misleide idees en tragedies.
Toespyker teen die herinneringe aan haar.
Hy voel hoe hy die pen stywer vasklou en nog ’n gedagte daaruit probeer druk.
“ Ek is jammer dat ek so lafhartig…” hy krap dit dood.
’n Druppel spoel tussen die letters in ’n ink spiraal verdof die gedagte.
“Flip” Hy vrommel die papier op.
Onbewustelik verwag hy nog ’n klop aan die deur.
Hierdie keer is daar niks.
Hy voel hoe sy hartklop na normaal terugkeer.
Hy kyk weer na die papier op die afgedopte lessenaar voor hom.
“Dit was in elk geval ’n slegte idee…” dink hy.
Hy stap na die oorkant van die vertrek en kyk na die muurpapier se bruin watervlekke.
Dit vorm die mooiste patrone.
Vuil, soos hy, maar mooi.
Hy kyk na sy hande.
Hy verbeel hom dat hul bewe, maar daarvan kan hy nie seker wees nie. Vir een of ander rede is hy te bang om by die venster uit te kyk.
Die lig mag hom dalk ontbloot vir wat hy werklik is.
Hy skraap moed bymekaar en stap terug na die lessenaar.
Die stoel kraak onder hom en hy word bang dat iemand weer sal kom klop.
Hy krap die verf met sy nael van die potlood af. Rooi en swart stukkies gaan plak onder sy nael.
“Nee, ek is nie jammer nie. Dit was my enigste opsie. Ek weet jy sal dit verstaan…”
Hy voel hoe sy verskonings verswak soos dit die papier tref.
Koue sweet vorm op sy voorkop.
Hy is nou bewus van sy bewerige hande…
Die lig flikker agter hom en drogbeelde skadu tussen sy woorde in.
Die druppels ink verstik met elke trekslag.
Die hartklop maak klein spatsels soos sy hande al hoe meer begin bewe.
Hy is nou oortuig daarvan dat sy hande bewe.
Hy vryf oor sy voorkop en die ink laat ’n vlek wat by die plooie op sy voorkop inkerf.
En dan weer die klop by die deur.
Hierdie keer is dit saggies, amper strelend.
Juis daarom is dit onwerklik?
Net sy verbeelding?
Maar daarvan kan hy glad nie seker wees nie.
Hy is van niks meer seker nie.
Sekerheid? Absolute bog.
Hy was juis so seker dat die swembadhekkie gesluit was. Dat sy veilig in die huis was.
Dat sy êrens soos gewoonlik diep in droomland rondgehardloop het.
Met die slaap in haar oë…
Maar sy was nie…