Deur Johnny Malgas
… en ek is jammer.
Ek weet nie hoe dit ooit moontlik sal wees dat jy my sal vergewe nie, maar ek moes net vir jou sê kry my by die afdraai en…
Die stukkie papier lê knus in sy palm.
Die res afgeskeur. Onvoltooid. Hoe? Waar?
Hy het haar al lankal vergewe. Hy het haar al so lankal vergewe.
Nog voordat die asem terug in sy borskas kon instroom, het hy haar reeds vergewe.
Haar woorde het hom soos ’n ton bakstene getref.
Daardie soort wat jou saam met die reuk van stof en klei deel maak van die kontak met die grond.
Jy word…meteens niks, stof tot stof.
Die enigste probleem is dat jou liggaam nog hier voor haar staan en die harde waarheid moet aanhoor.
Alhoewel jou kop reeds verbrokkel onder die hoop stene lê, moet jy sien hoe haar woorde en haar oë ooreenstem.
En hoe jy wens dat dit nie die waarheid sal wees nie. O, Here, hoe het hy nie gewens dit was ’n droom nie.
’n Donker nagmerrie waaruit hy kon wakker skrik, natgesweet, maar verlig.
Maar geen wekker het saam met haar woorde teen sy hartkamers se mure weergalm nie.
Geen rukspier voor hy die grond tref nie.
Net die goedkoop Antique-shop-kandelaar” wat in haar trane weerkaats. Of syne.
Hy kon op daardie stadium van niks seker wees nie.
Hoe maklik breek glas? Hoe maklik breek donnerse glas as jy dit buite in die “drive-way” los. Baie makliker as styf teen jou bors!
“Ek vergewe jou.” Het hy geprewel toe sy reeds by die deur uit was.
Toe hy reeds toegelaat het dat sy pyn hom oorrompel en verander het.
Hom laat spartel het met vloek-en-skree-pogings om homself onder die hoop bakstene uit te veg.
Maar voor hy kon bedaar was sy reeds weg.
Maar… hier staan hy nou met die stukkie papier in sy hartseer hande.
Dis hoop!
“kry my by die afdraai…”
Hy glip onbewustelik agter die motor se stuurwiel in.
Skuif sy lyf reg.
Hy vryf sy oë, die punte van sy vingers is nat. Die motor gly outomaties van die inrit in die weerkaatsing van ligte op die nat teerpad in. “by die afdraai.” “kry my by die afdraai.”
Die motor vibreer liggies onder hom soos dit stadig die gruis langs die pad ontmoet.
Hy trek egalig, beheersd van die pad af.
Voor hom flits die rooi ligte van ’n motor.
Die ligte druppels maak dit moeilik vir hom om uit te maak, maar hy sien die motor.
Haar motor.
Wat volgende gebeur, gebeur sonder twyfel.
Hy glip uit, stap reguit na die motor-ruit. “by die afdraai…”
Sy vreugdevolle hande half vuis, reg om te klop. Sy hand verfrommel meteens toe hy dit sien.
Twee figure in die motor.
Hy sien haar.
Sy sien hom.
En hy sien die ander helfte van die vergeelde brief in sy hande.
’n Volvrag bakstene tref hom meteens voor die bors, maar hierdie keer gaan hy nêrens nie.
Kortverhaal: Afdraai
