Iets waarmee mens later ontevrede is, of mee opgeskeep sit – waarskynlik na aanleiding van ’n geval waartydens iemand sonder nadere ondersoek ’n sak wat ’n haas sou bevat, gekoop het, maar toe ondek het dit is ’n kat. (Bron: Idiomiese uitdrukking – WAT)
Kieter is beslis hier aan die ontvangkant met Kat wat in die sak hondekos probeer inklim, en beslis met die nagevolge opgeskeep sou sit wanneer Kat moontlik nie baie lekker gaan voel nadat hy die verkeerde kos geëet het nie.
Hierdie oulike karakters is spesiaal vir Die Hoorn geskep deur Janien Müller (16). Sy is ’n leerling van Langenhoven Gimnasium.
Janien was onlangs die wenner van ’n internasionale kunskompetisie, Picture This, wat deur Protea Boekhuis in samewerking met verskeie internasionale uitgewers geloods was. Sy was die jongste algehele wenner met verskeie inskrywings van regoor die wêreld!
Sy was ook Maandag op RSG te hoor tydens die program Kompas met Cloé van Rooyen.
Sy het oulike illustrasies vir verskeie boeke, insluitend ’n kinderboek gedoen, asook “Jack en Lisa” vir haar skool se koerant.
Die Hoorn is opgewonde oor hierdie fantastiese nuwe reeks strokiesprente en om die lawwe avonture van Kieter en Kat met ons lesers te deel. Welkom by die span Janien, hou haar beslis dop. ’n Blink en kleurvolle toekoms wink vir haar!
