Jy is nie alleen nie – ons cheer jou aan

Deur Tania Smit

Soooo… dit het gebeur…
Jou vrou is weg, jou man is dood, jou geld is op, jou been is af, sy’t jou verneuk, hy’t jou verniel, hulle het jou besteel, vergeet, gelos. En jy’s finish en klaar, gedaan, op, stukkend, moer toe.

Jy sien jouself oud word, voel jou hart vasgroei, hoor jouself weghol. Jy bid vir doodgaan, verdwyn, wegkwyn – enigiets, solank die seer net kan ophou.

Stop.

Die realiteit is dit maak nie saak of dit onregverdig is nie, al is dit.

Al wat saak maak, is dis real, en jy’s nog hier. Punt.

En as jy nog hier is, het jy nog werk om te doen, ’n verskil om te maak, ’n les om te leer, ’n voorbeeld om te wees. Want as jou werk klaar was, sou die fluitjie geblaas en die trompetgeskal jou kom haal het, maar dit het nie.

So, tot daardie dag is jy in die wedloop, vir ʼn rede, nie vir opgee nie. En jy gaan hol. Op jou beste.

So vee af jou trane, tel op jou kop, gaan haal daardie asem, wapper jou vlag, en begin weer. Vir die twintigste keer, dertigste keer, honderdste keer. Maki saki.

Net vir vandag
en môre vir môre
en oormôre vir oormôre.
Warrior, kind van die Lig: Jy is nie alleen nie.
Ons cheer jou aan.
Staan op!
@Hekelwoorde van my hart