Hollywood uit ’n ander hoek

Deur Johan Strasheim

3 Februarie 2011. ’n Pragtige dag. Ek het sopas twee dae opleiding ontvang oor allerlei veiligheidsaspekte van Robinson helikopters by hulle fabriek by die Zamperini Lughawe in Torrance, Kalifornië.

Na die kursus kry elke student die geleentheid om ’n ruk saam met ’n instrukteur te gaan vlieg in van die besigste lugruim in die wêreld. My instrukteur – Simon – is ’n aangename man wat baie belang stel in Suid-Afrika en hoe dinge hier werk in ons lugvaartindustrie.

Amerika is omtrent vervuil van lughawens en daar in oral kleiner lughawens in- en om groot stede soos Los Angeles – waar ons in Torrance was. Voor ons gaan vlieg is daar die gebruiklike inligtingsessie waar ek en hy presies ooreenkom wat en waar ons gaan doen tydens die vlug van sowat ’n uur. Die kaart waarna ons kyk – primêr sodat ek my “bearings” kan kry, is baie interessant met name soos Malibu, San Bernardino, Long Beach, Santa Monica en natuurlik, Hollywood. Nie elke dag name vir ons nie.

Simon verduidelik hoe die lugruim daar werk, en dat ons met die helikopter in ’n virtuele laag tussen twee hoogtes moet bly, waar ons gaan vlieg en watter prosedures ons gaan deurdraf in die Robinson R44. Alles klink goed, maar ek wil na die beroemde Hollywood naam in groot wit letters teen die berg gaan kyk. Dit is maar so 30 km weg en ek vra maar baie mooi. Dit was nie deel van die plan nie. Simon stem uiteindelik half teësinnig in.

Wat my versoek natuurlik baie moeiliker maak – Los Angeles International Airport (LAX) is so 17 km noord en net mooi tussen ons en Hollywood. Vir dié wat nie weet nie, dit is een van die besigste lughawens in die wêreld met 4 parallelle aanloopbane en is al in bedryf sedert 1928. Om perspektief te gee; in 2022 is daar bykans 66 miljoen passasiers daar deur, wat dit die wêreld se sesde besigste lughawe gemaak het. (Dit is omtrent 83 keer meer as wat George lughawe hanteer.)

Die hele lughawe beslaan sowat 1 400 hektaar. Dit is groot, baie groot, en is dit ook die basis van minstens 8 groot lugrederye. Behalwe LAX is daar ’n hele rits kleiner lughawens in die area – ao. Burbank, John Wayne (Orange County), Long Beach, Ontario en San Bernardino. Hierdie lughawens dra ook dan almal by tot die baie besige lugruim oor die uitgestrekte, groter Los Angeles area.
Die helikopter waarmee ons gaan ry is ’n helder geel R44, registrasienommer heel gepas N244RH.

Ek en die instrukteur doen saam die voorvluginspeksie en hy gee goeie raad soos ons deur die prosedures werk. Dit is maar hoe opleiding werk.

Nou ja, alles is reg, ons klim in en skakel aan. Ons kry klaring by die toring en styg op, klim al langs die een aanloopbaan af, waarna Simon my eers deur ’n paar kleiner maneuvers neem, seker sodat hy kan sien of ek darem weet wat ek doen. Ons kry klaring om die Zamperini lugruim te verlaat en klim in die Los Angeles lugruim in. Wat ’n belewenis!

Ons gaan Hollywood toe en moet dit noodwendig met ’n paar draaie doen om al die lughawens se beheerde stukke lugruim te ontwyk maar steeds in ons “lagie” lugruim te bly. Hy doen die radiowerk en ek vlieg – hiernatoe, daarnatoe en ten alle tye kyk ons albei kwaai rond vir ander verkeer. Ons is redelik vêr oos van LAX noorde toe en ek kon dit nie sien nie, maar ons het ’n draai verby die Hollywood naam op die berg gery. Soos ons oral vlieg wys hy areas en landmerke uit wat alles meesal vreemd, maar baie interessant vir my is. Pret agter die rug, en ons moet terug Zamperini toe. Een van die noodprosedures wat helikoptervlieëniers gedurig oefen is die sogenaamde outorisasie. Dit is wat jy doen wanneer die enjin staak of doodgaan. Glo dit as jy wil, maar ’n helikopter kan “sweef” en heel suksesvol land solank jy ’n klomp goed reg doen. Hulle val nie eenvoudig uit die lug uit nie. Wat die ou wat vlieg regkry, is om die rotorlemme te laat draai uitsluitlik deur die opwaartse vloei van lug soos die helikopter daal.

Terug by Zamperini vra Simon my toe of ek lus is vir ’n “auto”. Natuurlik, sê ek en gee nog meer aandag aan wat ek doen. Hy wil hê ek moet mik vir aanloopbaan 29L. So gesê, so gedaan. Gewoonlik gee jy weer krag so ’n paar meter bo die grond en gaan land daarna normaalweg, maar vandag gaan ons “auto” tot op die grond.

Soos ons nader kom, vra hy “Do you think you’ll make it?” Ek skat en antwoord ewe self-voldaan “Affirmative”…waarna hy summier die krag sny. Dadelik is ek en bietjie fisika in ’n tweestryd met swaartekrag betrokke. Alles loop mooi maar dit is darem makliker as jy ’n ervare instrukteur langs jou het! Hy gee deurlopend kommentaar wat baie gerusstellend is. Ons gaan mooi op die “nommers” van die aanloopbaan opeindig.

Naby die grond rond jy die helikopter mooi uit en trek die laaste bietjie ligvermoeë (“Lift”) uit die rotors uit om net mooi op die grond op te eindig. Dankie tog dit het perfek uitgewerk en ek en Simon is gelukkig.

Soos alles kom dit toe ook op ’n einde en is ek juis deur LAX die volgende oggend, terug huis toe. Al wat ek nou daarvan oor het is ’n foto of twee en ’n inskrywing in my helikopter logboek. So gaan dit seker maar. (Deur Johan Strasheim)