Heimwee oor rugbysterre van weleer

Een van my lewensfilosofieë is … “Moenie ophou leer nie, moenie ophou lees nie.” ’n Mens moet lees. As jy nie lees nie is jy niks beter daaraan af as die mense wat nie kan lees nie. Jy moet lees en jy moet gedurig soek. Soek na enige iets. Kennis is mag. Soveel as wat ’n mens kan bereik, is daar altyd nuwe dinge om te leer en te doen. Ek wens so die jong mense van vandag wil my glo as ek dit sê! Nuwe dinge, ou dinge. Jy sal weet as jy dit raaklees, dit is wat jy gesoek het en jy sal vassteek en sal dit jou gedagtes lei na nuwe horisonne.

Een van die boeke wat uit my pa of oupa se versamelings by my beland het, is die Matieland van 1973. Hulle was albei groot Maties in teenstelling met my wat ’n Tukkie in murg en been ge-word het! So lees ek anderdag daarin en in die “Ons eer hul nagedagtenis”-gedeelte, vang die volgende paragrafie my oog:

“Mnr. Sas (JS) de Kock is op 4 November verlede jaar in die ouderdom van 76 jaar in George oorlede. Hy was ’n legendariese rugby­springboklos­skakel wat reeds in 1916 deur Oubaas Mark op Stellenbosch raakgesien is. Sy spanmaats was onder andere Manne­tjies Michau, JJ Strasheim, Japie Krige, PK Albertyn en Theo Pienaar.” Dit is sowaar meer as 100 jaar gelede…
Sowaar. Dis natuurlik my oupa en naamgenoot wat saam met hom gespeel het in die 1920’s en dié Matie-agterlyn was ’n legende. Die hele agterlyn het net so vir die WP ook uitgedraf. My oupa was een van die senters (hulle het destyds gepraat van ’n driekwart) en beroemd vir sy systap en fopaangeë.

Hy het vir Maties en die WP gespeel van 1919 tot 1922 en was kaptein van Maties en die WP in 1921. Hy word as een van die ongelukkigste Maties ooit beskou om nie Springbokkleure te verwerf nie en was ’n amptelike reserwe vir Theo Pienaar se Springbokspan op hul toer na Nieu-Seeland in 1921.

My oupa het die hele storie aan my vertel toe ek nog klein was en ek het aan sy lippe gehang, maar noodwendig is daar klein details wat nie oorkom nie. Sulke stories uit my mense se verlede het nog altyd ’n spesiale bekoring vir my gehad.

JJ Strasheim (my oupa) het tussen 1917 en 1918 oorsee gaan studeer ­voordat hy in 1919 sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voortgesit het, waarna hy ’n doktorsgraad in sielkunde behaal het. Daar het ’n baie lang verbintenis met sy alma mater begin – veral op die rugbyveld.

Ná afloop van sy speeldae het hy afgerig en begin fluitjie blaas. In die dertigerjare was hy die breier van die Maties o.19A- en o.19B-spanne – die o.19A-span was vir sewe seisoene nooit as kampioene onttroon nie.

Intussen maak Johnnie Strasheim (soos hy algemeen bekend was) ook vinnig opgang as skeidsregter en op 3 September 1938 hanteer hy op 48-jarige ouderdom die fluitjie in die toets in Port Elizabeth tus­sen die Springbokke en die Britse Leeus se span van Sam Walker. Die Bokke het die wedstryd met 19-3 gewen die dag. Twee name in die Bokspan het my aandag getrek – dié van Danie Craven wat die Bokspan aangevoer het en ’n baie lang pad van vriendskap met my pa en oupa gestap het, en dié van Lukas Strachan van Noord-Transvaal. Dit was toevallig ook die legendariese Lukas Strachan se laaste toetswedstryd.

Daarna het die Tweede Wêreld-oorlog my oupa se aktiewe rugby-lewe – soos dié van baie ander begaafde spelers – kortgeknip. Een van die vele tragiese gevolge van oorlog.

My oupa is in 1976 – drie jaar later as Sas de Kock – op 82-jarige ouderdom oorlede. Dit was die week voordat die All Blacks teen Noord-Transvaal gespeel het op Loftus. Loftus se nuwe hoofpawiljoen was nog in aanbou en alles bietjie deurmekaar. Ek onthou dit nog baie goed. Ek was ’n eerstejaar ingenieur-student op Tukkies en een van ons projekte was ’n analise van die einste tipe struktuur waarvolgens die nuwe hoofpawiljoen gebou is.

Ek het dié Saterdag my oupa se komplementêre seisoenkaartjie gebruik om die wedstryd te gaan kyk, nogal met ’n swaar hart. Op die pawiljoen het dieselfde klomp BBP-gaste – meestal oud-spelers – altyd in ’n groep naby mekaar gesit en daar is dié dag oor en weer en met groot deernis gepraat van my oupa wat vroeër die week oorlede is. Soos die toeval dit wil hê, het ek daardie Saterdag regs langs Lukas Strachan gesit op Loftus se nuwe hoofpawiljoen.

So kom die stukkies en brokkies uit die verlede bymekaar op sy eie tyd en ’n ou onthou baie van die mooi saam met die heimwee. Dis seker maar hoe dit is?