‘Ek huil saam met moederaarde’

Ons praat mos nie maklik oor die dinge en die goeterse wat mense se bloed onnodig laat kook nie. Wie praat vandag openlik oor die droogte, die direkte oorsake wat daartoe gelei het? Wie waag om oor waterskaarste en die gevolge daarvan te praat? Niemand praat oor waarom die reën wegbly nie.

Niemand praat van die “belowe-wolke” nie.

Daagliks, sien ek groot vragmotors vol gruis, sand en klip, en ek huil saam met moederaarde oor haar aangesig wat geskaad word, deur die gewoel en gewerskaf en ewigdurende gemyn. Hoor eers hier: Waffer moeder/vrou sal nie beswaard voel as haar voorkoms of gesig leed aangedoen word nie? En onthou ons het hier te make met MOEDERAARDE! Waarom is die natuurbewaarders en die groen mense so stil?

Wie praat van ontbossing, woestyning? Wie maak geraas oor oorbeweiding, die gevogeltes wat die aarde kaal vertrap? Hoekom praat die “greenies” en natuurbewaarders NET as voorkeurgrond benadeel gaan word as daar huise gebou gaan word? Kyk nou maar Oudtshoorn – lyk daar is net skaars plantjies wes en noord van die dorp, maar aan die ooste is daar geen sprake van skaars bedreigde plantjies nie. Vreemd nê – dat moederaarde so selektief is. In ons kerk is daar ’n gesang wat aanhef – Op berge en in dale en oweral is God … oral.

As oom Booi Pikaan nog geleef het, sou hy hom oor die bestaande so uitgespreek het: “Soete bloed!”
Op dié oomblik reën dit so lekker daarbuite . Deur my voorkamervenster sien ek hoe die reën mildelik uitsak oor die dorre aarde en ek voel dankbaar dat ek my kop kan skoonkry. Ek vra myself af, het ons blind en stom geraak dat ons goeterse sien maar nie daaroor praat nie?

Deesdae sien ons hoe daar nuwe heinings opgerig word en hoe die veld opnuut weer ingekrimp word.

Elke Saterdag sien ons hoe mense in groot getalle teruggegee word aan die die skoot van die aarde. Die begraafplaas self is ’n plek van agteruitgang. Grafstene word omgestoot en hier­oor is selfs ’n doodse stilte. Selfs die stadsvaders swyg oor grafskending. Is daar nuwe munisipale bywette? Wag, wag, o ja … stoele en posisies kom eerste bo iemand anders se hartseer.

Daar is wetgewing oor grafte in landelike gebiede. Plaaseienaars mag nie mense weier om hul geliefdes se laaste rusplekke te besoek nie. Nog minder mag hulle begraafplase platstoot. Dit sê ek sonder benadeling van regte.

Graftes is bloot nie net ’n gat in die grond nie. Dit is ’n erflike baken. En op grond van my inheemse kultuur voel ek my genoop om graf­sken­ding in die algemeen aan te spreek. Mense moet seker wonder waarom is dit nodig dat ons oor dinge en goeters moet praat. Hoekom dan stilbly omdat ons te bang is om te praat?

Hoekom nie praat oor ontbossing, waterskaarste, woestyning, waternood en grafskending nie? Ons het ’n goddelike roeping en ’n opdrag. Boonop, die Khoi-Khoi en San is van nature bewaarders en opsigters in terme van ons gewoontereg.

Ons is nakomelinge van die eerste mense wat die gewoonteregstelsel volhoubaar toegepas het, volhoubaar behoed en bewaar het.

Daar is ’n spiritualiteit eie aan ons inheemsheid. Daarom vra ek myself die vraag af: Hoekom reën dit so lekker? Het ons dalk die dinge begin raaksien? Die dinge en die goeterse waaroor niemand wil praat nie?

Omdat iemand durf waag om te praat oor die skending, die ontheiliging en ontering van ons Goddelike opdrag? Ons jaag deesdae geld en goed na, in plaas daarvan om ons nalatenskap te bewaar. En dit is ons water, ons plantjies (ook in die ooste) en ons graftes. Dis tragies dat iewers op ’n plaas in ons omgewing daar families is wie se graftes deur die eienaar platgestoot is.