Die wapenstilstand van 11 November 1918

Deur Reinderd Visser

Dit was in Oktober 1918 vir die Duitse generaals baie duidelik dat hulle nie meer die oorlog sou kon wen nie. Dit het daarom dringend tyd geword om die oorlog te beëindig voordat die Ge­allieerdes hulle tot in Duitsland self terugdryf, iets wat hulle teen alle koste wou verhoed. Onderhandelings moes daarom so gou moontlik begin.

Duitse afgevaardigdes het op 8 November in die woud van Compiègne in Noord-Frankryk aangekom. Hier het die opponente se afgevaardigdes hulle op die private trein van Maarskalk Foch, Geallieerde opperbevelvoerder, ontmoet. Hulle het ’n lys vereistes ontvang waaraan hulle moes toegee vóór die wapenstilstand onderteken kon word, en het 72 uur gekry om daarop te reageer. Hulle het hul bevestiging om vyfuur die oggend van 11 November ge­gee en die nodige dokumente is rondom kwart oor vyf geteken. Alle gevegte sou stiptelik om elfuur dieselfde dag stop.

Ek het verlede keer vertel dat die Springboks hulle op 10 November, nie ver van die voorste Duitse linies nie, ingegrawe het. Hulle het vroegoggend op 11 November nog enkele aanvalle geloods, maar om tienuur het hulle die nuus ontvang dat die oorlog ’n uur later finaal verby sou wees. Stel jouself die vreugde onder die manne voor! Hulle kon die minute geduldig in hul loopgrawe afgewag, wel wetende dat hulle na elfuur vrylik sou kon uitklim sonder die gevaar dat die vyand ooit weer op hulle sal vuur. Soos ’n Sersant Lewin huis toe geskryf het: It will be an unbe­lievable relief to get away from the utterly barbarous conditions of Europe”. Maar eers sou daar om twee minute voor elf iets bisar gebeur.

Sowat 200 meter voor hulle het ’n masjiengeweer skielik begin knetter! ’n Duitse soldaat was besig om ’n hele band patrone oor hul koppe uit te skiet! Toe dit stil word, het iemand ge­waag om te kyk wat aangaan. En wat sou hy sien? ’n Duitser wat doodluiters van agter sy masjiengeweer opstaan, sy pet afhaal, formeel in die rigting van die vyand buig en dan doodluiters in die rigting van Duitsland begin ­stap. Hy wou duidelik die “laaste woord” inkry, maar nou was alles regtig, finaal verby!

Elfuur, 11 November 1918 het aan­gebreek – die dag en uur waarop almal gewag het en wat na vyf jaar die einde van die bloedige konflik van die Eerste Wêreldoorlog sou beteken. Al sou die amptelike vredesverdrag eers maande later, in Junie 1919, buite Parys onder­teken word, was die mens- en diere­-slagting uiteindelik agter die rug.

Statistiek van die oorlog is skrikwek­kend. Meer as 8,5 miljoen soldate het in die vyf jaar gesneuwel, met ’n verdere 21 miljoen wat gewond of vermink agtergelaat is! En dan praat ons nie eens van die miljoene burgerlikes wat ook gesterf het of ontwrig is nie!

Wat Suid-Afrika betref, het sowat 146 000 wit, 83 000 swart en 15 000 bruin soldate asook 400 verpleegsters in Suid-Afrikaanse eenhede gedien, met ’n verdere 3 000 in ander imperiale eenhede. Hiervan het byna 12 500 ge­sneuwel of aan siektes gesterf en is tienduisende ander gewond.

En wat van die Klein Karoo? Daar is ’n ererol in die museum met die name van 189 wit soldate wat in die Eerste Wêreldoorlog gaan veg het. Hoe vol­le­dig dit is, weet ek nie. Dit is moontlik net ’n lys van oud-leerlinge van die Oudtshoorn Jongenskool wat oorlog toe is; daar mag dus nog enkele ander ook wees wat nie op die lys is nie. Ek weet ook nie hoe volledig my lys van gesneu­weldes is nie. Dit staan op 80 wit soldate, 26 bruin soldate, vier bruin drywers en arbeiders en een verpleegster wat gesterf en ’n verbintenis met Oudts-hoorn of die omgewing ge­had het.

Ek het in die CP Nel Museum se argief gaan kyk hoe daar oor elfuur op 11 November (11.11.11) berig is en hoe die dorp gereageer het op die wapenstilstand. Dit bly my verstom – vóór 11 November al het die Oudts­hoorn Cou­rant oor die afgevaardigdes wat by die onderhandelings betrokke was, berig, en op 11 November dat die voorwaar­des die vorige dag aan die Duitse afvaardiging oorhandig is en hulle op die 11de moes reageer. In ’n volgende uitgawe is die dorps­mense aangemoedig om – met die verwagting dat die burgemeester sal aankondig dat vrede amptelik aangebreek het – vlae uit te hang, dat winkels vir een dag moet toemaak en dat die dorpsraad da­delik met die reël van feesvieringe moet begin.

Dit alles, en meer, het gebeur. ’n Amp­telike dankdiens is vir Vrydag 15 November op die Rec (recreation grounds) gereël en alle amptenare en dorpenaars is aangemoedig om dit by te woon. Op 18 November is breed­-voe­rig daaroor berig. Dit was ’n uit­spattige geleentheid! Die paviljoen was gepak met belangrike mense terwyl toesprake gehou is. Dit was duidelik dat almal dankbaar was dat die oorlog verby was!

Daar was later ook dankdienste in die Moederkerk, St Jude’s Church (An­-glikaans), Weslyan Church (Presbiteriaans) en die sinagoge in Queenstraat (nou Baron van Reedestraat).

Was dit alles die moeite werd? Wie weet. Ek dink maar net aan die baie gewondes en gesneu­wel­des en wonder daaroor…

Vernaamste bronne: John Buchan – Springboks in France; Bill Nason – WW1 and the People of South Africa; Peter Digby –

Pyramids and Poppies; CP Nel Museum-argief; www.southafricawargraves.org

• Treinwa 2419D: Dit was die wa waarin die Duitse en Geallieerde af­gevaardigdes die wapenstilstand van 11 November 1918 onderteken het. Die trein het tussen die bome in die woud van Compiègne gestaan sodat vyandige vliegtuie dit nie kon opspoor en bombardeer nie. Na die oorlog is daar ’n museum met die wa daarin opgerig.

Op 22 Junie 1940, tydens die Tweede Wêreldoorlog, het Hitler die Franse ge­dwing om in dieselfde wa hul oorgawe te onderteken. Die wa is na Duitsland geneem en aan die einde van die oorlog deur vlugtende Duitse troepe aan die brand gesteek.

Die Franse het treinwa nr 2439, wat saam met die oorspronkli­ke een in 1913 gebou is, opgespoor, die nommer na 2419D verander, en dié wa is die een op my foto. Metaal­dele van die oorspronklike wa is wel opgespoor en is ook op uitstalling in die museum.