Deur Liesel le Roux

Konsentrasie tydens die OudtshoornSportfees. Die domino-toernooi is een van die sportkodes by die fees. Foto: Garnett Wicomb
DIE herlewing van die Oudtshoorn Sportfees is ’n brokkie goeie nuus in die wintervakansie.
Daar is gevrees dat die jaarlikse sportfees iets van die verlede is nadat dit die voorafgaande twee jaar nie aangebied is nie. Baie geluk en dankie dus aan diegene wat hard gewerk het om die fees weer vanjaar – al is dit op ’n kleiner skaal – weer die lig te laat sien.
Behalwe dat sport ’n wonderlike samebindende faktor is en Oudtshoorn oor uitstekende sportfasiliteite beskik, is Oudtshoorn se feeste en al die sportgeleenthede wat hier aangebied word, noodsaaklike inspuitings in die dorp se ekonomie.
Die sonnige winterweer, veilige plattelandse omgewing en voldoende verblyf beskikbaar maak dit voorts die ideale bestemming vir groepe skool- kinders en sportspanne.
Oudtshoorn en die dorp se supermarkte was bedrywig die afgelope week – in ’n groot mate te danke aan die Sportfees.
Mag die Oudtshoorn Sportfees hierdie keer net van krag tot krag gaan en elke jaar groei.