Deur Liesel le Roux
DAAR sal minder chaos in raadsvergaderings wees indien die Groter Oudtshoorn Raad toesien dat portefeuljekomiteevergaderings plaasvind.
Dit was deel van ’n versoek aan die raadsvergadering Dinsdag deur raadslid Jongilizwe Tyatya van die ANC.
Tytya het gesê portfeuljekomiteevergaderings sal raadslede die geleentheid gee om kwessies te debatteer voordat dit na die raad toe kom.
Dit is bekend dat daar groot ontevredenheid is onder raadslede van opposisiepartye oor die feit dat die dorp se portefeuljekomitees nie funksioneer nie. Verskeie inwoners het egter ook al Die Hoorn hieroor genader – ook DA-ondersteuners wat bekommerd is dat die raad munisipale wetgewing hierdeur mag oortree.
Hoewel vyf raadslede na die verkiesing van die nuwe raad as voorsitters van portefeuljekomitees aangewys is, is geen lede vir dié komitees aangewys nie, en vind sulke vergaderings dus nie plaas nie. Die voorsitters van portefeuljes, George Kersop (finansiële dienste), Johan Fourie (tegniese dienste), Piet Luiters (strategiese dienste), Ewa Fortuin (korporatiewe dienste) en Hendrik Ruiters (gemeenskapsdienste) is klaarblyklik die enigste lede van hul portefeuljekomitees.
Tyatya het daarop gewys dat dié raadslede salarisse ontvang om as voorsitters van die portefeuljekomitees op te tree. Hy het die huidige stelsel in die Oudtshoorn-raad as onwettig bestempel.
Volgens twee ingeligte bronne oor raadsake met wie Die Hoorn gepraat het, is dit in stryd met munisipale wetgewing en ontneem dit raadslede hul grondwetlike reg om deel te neem aan bespreking en besluitneming. Die doel van die portefeuljekomiteevergaderings is juis om ’n komitee van raadslede die geleenthede te bied om aangeleenthede te bespreek, het een van die bronne gesê.
Die munispaliteit het nie gister op ’n navraag van Die Hoorn oor die aangeleentheid wat Tyatya geopper het, gereageer nie.