Slangvanger Mornay Thysse met ’n Kaapse kobra. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIE slangseisoen is inderdaad in volle swang in die Klein Karoo.
Mornay Thysse, bekende slangvanger van die Oudtshoorn Munisipaliteit, vertel hy moes Sondag vyf slange by huise in en om Oudtshoorn gaan verwyder! Hieronder tel twee Kaapse kobras wat hy onderskeidelik by die Buffelsdrift Game Lodge noord van die dorp en by die Centre of Hope in die nywerheidsgebied verwyder het.
Dieselfde dag moes hy ook ’n pofadder by die Riempie Uitbreiding, ’n sweepslang (sandslang) in ’n huis in Condorstraat en ’n boomslang in ’n kombuis by TBI naby die Kango Bergoord verwyder. Volgens Thysse is ’n sweepslang se gif nie gevaarlik vir mense en troeteldiere nie. Die ander slange is egter baie giftig.
Maandag het ook besig begin met ’n pofadder wat hy in ’n gastehuis in Schoemanshoek moes vang en daarna ’n Kaapse Kobra naby die skougronde.
Thysse plaas al die slange wat hy verwyder, veilig terug in die natuur.
• Kontak die munisipale beheersentrum by 044 203 7800 / 203 7801. Die beheersentrum sal Thysse of iemand anders wat kan help, kontak.