Queen’s Hotel spaar so en verminder omgewingimpak

Alie Killian, besturende direkteur van die Queen’s Hotel, by van die baddens van die hotel wat nadat dit uitgehaal is, gebruik word om kruie, spinasie, grasuie en ander groente in te kweek vir gebruik in die hotel. Op die inlas is ’n rak met plante in onder meer plastiekhouers.
Deur Schalk le Roux
DIE Queen’s Hotel op Oudtshoorn, een van die oudste hotelle in Suid-Afrika, het die laaste tyd verskeie inisiatiewe geneem om omgewingsvriendelike praktyke in werking te stel. ’n Bonus van dié praktyke is dat dit finansieel voordelig is.
Alie Killian, besturende direkteur van die hotel, sê die Queen’s Hotel is stelselmatig besig om “groen” te raak.
“Ons het reeds begin om alle gloeilampe in die Queen’s Hotel wat blaas met LED-ligte te vervang,” vertel hy. LED-ligte verbruik sowat 10% van die elektrisiteit wat tradisionele gloeilampe gebruik. Dit gebruik ook minder krag as die sogenaamde energy saver-gloeilampe.
Volgens Killian het hulle die agt gloeilampe in die Queen’s Hotel se voorportaal wat 24 uur van die dag brand. “Deurdat ons dié ligte met LED’s vervang het, bespaar ons 2 450 kW/h wat nie net ons koolstofvoetspoor verklein nie, maar vir ons ook ’n besparing van meer as R3000 per jaar meebring vir net die voorportaal se ligte. As al die hotel se ligte in ag geneem word, is die besparing van elektrisiteit uiteraard heelwat groter.”
Ook ten opsigte van waterverwarming en lug-versorging het die Queen’s Hotel hul koolstofvoetspoor heelwat verklein, vertel Killian.
Hittepompe is by die hotel se warmwatertenks (boilers) aangebring. Volgens Paul de Jong van Solarcon wat die hittepompe geïnstalleer het, bring dié vervanging mee dat tussen 50 en 60% minder elektrisiteit gebruik word om water te verwarm.
Die hittepompe verwarm boonop die water heelwat vinniger as die ou kragelemente, sê De Jong.
Nuwe lugversorgers wat met inverter-tegnologie werk, is ook in al die kamers en elders in die hotel aangebring. Volgens De Jong gebruik die nuwe lugversorgers minstens 20% minder elektrisiteit as die voriges.
Killian sê hulle het in 2016 al 40 die hotel se kamers oorgedoen. “Ons het al die baddens met storte vervang, onder meer omdat ’n mens minder water gebruik om te stort as om te bad. In die proses word ook minder warm water gebruik.”
Interessant is dat Killian van die baddens wat uitgehaal is, nou gebruik om aan die agterkant van die hotel kruie, spinasie, grasuie en ander groente in te kweek wat in die hotel gebruik word terwyl dit nog lekker vars is!
Killian vertel hulle het ook met ’n omvattende herwinningsprojek (recycling) by die Queen’s Hotel begin om so ’n bydrae te lewer om die mens se impak op die omgewing te verminder.
“Ons het ’n herwinningstoor ingerig waarheen alle herwinbare plastiek, glas, metaal en papier wat tydens die bedryf van die hotel gegenereer word, gebring word. Wanneer daar genoeg opgegaar is, kontak ons ’n plaaslike herwinningsonderneming wat dit kom afhaal.”
Killian gebruik ook talle ander plastiekhouers soos roomysbakke in sy kruie- en groentetuin.
Volgens Killian is sowat R7000 oor die afgelope twee jaar aan hulle uitbetaal vir hierdie herwinbare materiaal.
“Ons gebruik dié geld om vir ons personeel verjaardag- en Kersfeeskoeke te bak. Ons het vanjaar ook die eerste keer vir ons personeel ’n jaareindfunksie aangebied wat met dié geld betaal is.”
Killian, wat ’n passie vir tuinmaak het, ry die organiese materiaal wat uit die kombuis van die hotel kom, na sy huis aan om kompos mee te maak. Tydens ’n besoek aan Killian het hy Die Hoorn na sy huis geneem en trots sy komposaanleg gewys wat met toewyding versorg word.
Danksy die Queen’s Hotel se herwinningsaktiwiteite het die Oudtshoorn Munisipaliteit weinig om by die hotel te kom verwyder.
“Die munisipaliteit behoort ons eintlik afslag op ons diensterekening te gee,” voeg hy met ’n glimlag by.
Volgens Killian is dit baie netjieser, skoner en meer higiënies in die hotel se agterplaas sedert hulle met herwinning begin het.