Leer ken die Rooi Apteek by dié wandeling

CP Nel Museum Scan

KEN jy Die Rooi Apteek?

En Matthews se Tabakfabriek?

Hoe­veel weet jy van Dicker’s Lane?

En hou jy van die sandsteenhuise uit die Volstruisveerbloeitydperk?

Inwoners van die Suid-Kaap kry volgende Donderdag tydens ’n aandwandeling in Hoogstraat die geleentheid om van Oudtshoorn se sandsteenhuise en ander geboue uit dié tydperk te besoek.

Die aandwandeling word aangebied deur die Vriende van die CP Nel Museum. Dié jaarlikse aandwandelings is altyd ’n hoogtepunt vir almal wat lief is vir ou geboue, weetgierig is of net ’n interessante uitstappie geniet.

Volgende week se aandwande­ling skop om 18:00 af by die Baron’s Palace en eindig by die Pelham-woning in Hoogstraat 171 waar wyn, koffie, tee en versnaperinge bedien sal word.

Ander plekke wat besoek gaan word, is Matthews se Tabakfabriek – een van die dosyne tabakfabrieke wat aan die begin van die 20ste eeu in Oudtshoorn geleë was, die Moths­gebou met sy vrolike gewels wat kenmerkend is van die volksboukunde, Dicker’s Lane, Die Rooi Apteek, asook verskeie huise uit die Volstruisveer-bloeitydperk.

Die kenner van Oudtshoorn se geskiedenis en ou geboue, Hazel Jonker, sal op haar bekende onderhoudende manier inligting oor die ou geboue en geskiedenis rondom die geboue verskaf.

Kaartjies (R70 per persoon) is te koop by Jonker (082 651 8037).

Gemaklike klere en stapskoene en ’n flitslig word aanbeveel. (Berig deur Liesel le Roux)