Kompos-projek geloods

Rodwell Witbooi (bestuurder vaste afval by die Oudtshoorn Munisipaliteit, links) by Karel Samboer (inwoner), Johan Gie (afvalbestuursbeampte van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit) Chantal von Berg en Phillipa Davis (inwoners). Foto verskaf

DIE Tuinroete Distriksmunisipalteit en die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het op 4 November ’n proefprojek geloods wat 30 Oudtshoorniete in staat stel om huishoudelike afval in kompos te verwerk eerder as om dit weg te gooi. Die munisipaliteit wil hierdeur die las op Oudtshoorn se Grootkop-stortingsterrein verminder.

Die 30 inwoners het huiskomposbakke, riglyne hoe om dit te doen, erdwurms, ’n stelsel om data by te hou en ’n weegskaal ontvang.

Johan Gie, afvalbestuursbeampte van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, sê die projek word saam met munisipaliteite in die hele distrik begin, omdat sowat 30% van alle huishoudelike afval op stortingsterreine uit organiese afval bestaan wat in kompos verwerk kan word.

“Dit word toenemend ’n uitdaging om organiese afval te bestuur. Die bevolkingsgroei, nuwe om­ge­wingswetgewing, beperkte plek vir afval en openbare druk vir ’n meer omgewingsvriendelike benadering, het gelei tot ’n groter bewustheid oor die bestuur van organiese afval.”

Rodwell Witbooi, Oudtshoorn se bestuurder vir vaste afval, het gesê die inisiatief is ’n positiewe stap. “Oudtshoorn verwelkom ’n inisiatief wat ons help om die beste van ons huishoudelike en tuinafval te maak.”

Tydens die inligtingsessie het amptenare die inwoners ingelig oor hoe om kompos te maak en wat die voordele daarvan is. Elke deelnemer moes ’n ooreenkoms met die distriksmunisipaliteit onderteken, wat onder meer ’n maandelikse verslag oor die projek vir ’n tydperk van een jaar behels.

Be the first to comment on "Kompos-projek geloods"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*