Klein Karoo brand weer

Foto links: Die Gamkaberg Maandagaand tussen Oudts­hoorn en Calitzdorp waar ’n groot brand in die berge gewoed het. Hierdie foto is geneem vanaf die sementpad wat net noord van die Gam­kaberg parallel met die berg loop. Foto: Schalk le Roux Foto regs: Voorbrande word Dinsdag deur die Eden Brandweer gemaak om te probeer verhoed dat die vlamme strukture, vee en weiveld verwoes. Foto: Deon van Wyk, hoof van die Eden Brandweer

Foto links: Die Gamkaberg Maandagaand tussen Oudts­hoorn en Calitzdorp waar ’n groot brand in die berge gewoed het. Hierdie foto is geneem vanaf die sementpad wat net noord van die Gam­kaberg parallel met die berg loop. Foto: Schalk le Roux Foto regs: Voorbrande word Dinsdag deur die Eden Brandweer gemaak om te probeer verhoed dat die vlamme strukture, vee en weiveld verwoes. Foto: Deon van Wyk, hoof van die Eden Brandweer

35 000 ha  tydens brande by De Rust verwoes

Deur Liesel le Roux
’N VERWOESTENDE brand wat die afgelope dae in die Gamkaberg en die Paardebond-omgewing suid van Oudtshoorn gewoed het, was teen gistermiddag in ’n groot mate onder beheer.

Voorbrande en brandpaaie wat deur brand­spanne en boere gestoot is, het ’n groot rol gespeel om te verhinder dat weiveld, veld met volstruise daarop en geboue en ander strukture afbrand.

Herman Pieters, senior woordvoerder van die Eden Distriksmunisipaliteit, sê die brand het verlede Vrydag ontstaan toe weerlig ’n gebied hoog in die berge in die omgewing van Cornel Fourie van Paardebond se plaas, aan die brand gesteek het.

Carina Fourie, suster van Fourie, sê haar broer het Woensdagoggend eers 06:00 by die huis ge­kom nadat hulle die hele nag die brand beveg en voorbrande gemaak het. Teen gisteroggend was daar nog enkele kleiner brande in sy plaas se omgewing, maar was die brande in die algemeen uitgewoed.
Volgens Pieters was die Eden-brandspan se prioriteit deurgaans die beskerming van huise, waar­onder houthuise en strukture. ’n Brandpad is ook tussen Jan Ellis se grond en grond van CapeNature gestoot om Ellis se volstruise te probeer beskerm.

Die wind het Dinsdagmiddag rook in die rigting van Oudtshoorn gejaag wat die dorp in ’n rookwolk gehul het.

Teen Dinsdagaand was die brand in die Gam­kaberg in ’n stadium 36 km lank.
Die Eden Brandweerspan is bygestaan deur spanne van CapeNature en Werk met Vuur.
“Die terrein het egter toegang tot die dele waar dit brand en pogings om die brande te bestry, moeilik gemaak,” het Pieters gesê.

Verslag oor brandskade vroeër vanjaar
Luidens ’n interimverslag wat die naweek deur Alan Winde, Minister van Ekonomiese Geleent­hede, uitgereik is oor onlangse brandskade is 35 000 ha se veld in die Swartberg/Mei­ringspoort/De Rust-omgewing in die Desember Januarie-brande verwoes.
Dit is die grootste gebied in die Wes-Kaap wat skade gely het. Ander skade sluit 20 000 ha in by Stilbaai/Riversdal, 20 000 ha by Plettenbergbaai, 10 ha by Ruitersbos/Gondwana en 26 000 ha by Cereberg/Wupperthal.

“Ons aanvanklike data toon dat natuurlike plantegroei, weiveld, infrastruktuur soos heinings en waterpypleidings asook gewasse en fynbos die swaarste getref is,” het Winde gesê.
Volgens hom is ’n vraelys aan boere gegee vir voltooiing sodat die omvang van die skade beter verstaan kan word. “Ons amptenare sal dit in ’n verslag vervat wat teen die einde van die maand beskikbaar behoort te wees. Die finale assesering sal ons help om die volle skade aan landbou te bepaal en ook wat die pad vorentoe moet wees.

“Indien gevind word dat boere verdere hulp nodig het, kan die Wes-Kaapse Departement van Landbou aansoek doen vir befondsing by die Nasionale Tesourie. Ons sal ook kan bepaal wat die grootste nood is. Dit kan veevoer insluit in gevalle waar weiveld vernietig is.”