Witblits in Prins Albert

By Lydia Barrella, kurator van die Fransie Pienaar Museum op Prins Albert (links voor) is die museumpersoneel wat met die bottelering van die witblits gehelp het: Whitey Jacobs en (agter) Melony Moos, Christeline Esterhuizen en Nadine Kroon.  Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
DIE jaarlikse witblitsstokery van die Fransie Pie­naar Museum op Prins Albert is ’n tradisie wat in die vroeë jare tagtig ingestel is en steeds volgehou word.

Verlede week is 375 liter stook- of rabatwyn, aangekoop by die Ladismith-wynkelder, hier omskep tot oor die honderd 375 milliliter-bottels witblits, onder leiding van die kurator, Lydia Barrella. Die stokers vanjaar was Danie en Lydia Swanepoel, Bokkie Botha, Jeremy Freemantle en John McKenna. Die bottelering is daarna deur die personeel van dié bekroonde museum gedoen.

Barrella het aan Die Hoorn vertel dat die 110 bottels wat uiteindelik verkry is, rofweg een-tiende is van die stookwyn wat in die museum se stookketel ingesit is. Die alkoholinhoud is 50 persent. Die museum koop die stookwyn teen R7,50/liter aan, en elke bottel word teen R150 verkoop, waarvan eenderde aan doeane en aksyns afgestaan word.

“Daar is twee redes waarom ons jaarliks witblits stook: Dit is vir fondsinsameling vir die museum, en ook vir demonstrasiedoeleindes. Hiervoor moes ons ’n permit kry. Dis ’n jarelange tradisie wat die museum getrou voortsit, en besoekers hou daarvan om die proses te bekyk.”

Die Fransie Pienaar het ’n lisensie vir die stook van witblits vroeg in die jare tagtig gekry, en elke jaar – in die druiweparstyd – spring ’n paar vrywilligers in om te help met stook en bottelering.

“Ons koop die stookwyn aan voordat die wyn­kelder swael byvoeg om fermentasie te stop. Ladismith se wynkelder is die enigste in die omgewing waar ons stookwyn van hanepootdruiwe kan kry. Die stookproses het drie dae geduur, en ons het onmiddellik aan die werk gespring voordat dit hier kon fermenteer,” vertel Barrella.

Die vrywilligers het drie dae lank gewerk omdat die stookketel net 125 liter op ’n keer kan vat.
Die Fransie Pienaar-museum is in 2017 aan­gewys as die Wes-Kaap se topmuseum, onder meer vanweë sy omvattende uitstallings wat ver­lede en hede saamsnoer, sy geordenheid en voortgesette inisiatiewe om die geskiedenis van die dorp en omgewing te bewaar, sy uitstekende navor­s­ingsargief, sy bydrae tot toerisme in die streek en Barrella se toewyding en kennis

Vir meer inligting en besoektye, bel die museum by 023 541 1172.