Wit vlaggies in strate vir #iSurrender

Wit vlaggies wapper in Voortrekkerweg op Oudtshoorn. Foto: Liesel le Roux

WIT VLAE wat sedert verlede week aan die lamppale in Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat op Oudtshoorn waai, is deel van ’n Christelike inisiatief wat ge­steun word deur verskeie kerkgroepe op Oudtshoorn.

Die raad is in Augustus vanjaar – na ’n optog van perderuiters, ’n donkiekar en stappers met wit vlae om die dorp – versoek om toestemming te verleen vir die plasing van die vlae op plekke in die dorp.

Die inisiatief hou geen finansiële uitgawes vir die munisipaliteit in nie.

As deel van die #iSurrender-inisiatief vind ’n Dag van Gebed Sondag op die Rec in Voortrekkerweg plaas.

Daar is kennisgewingborde by ver­keers­ligte aangebring met inligting oor die Dag van Gebed vir Oudtshoorn.

Die terrein sal vanaf 10:00 oop wees vir stil gebed, terwyl ’n amptelike saamtrek vir gebed en nagmaal om 17:00 plaasvind.

Nagmaal sal deur kerke voorsien word maar belangstellendes wat nie in kerkverband kom nie, kan hul eie nagmaal saambring of by enige kerkgroep aansluit. Bring ook ’n Bybel, kampstoel en piek-niekmandjie.

(Deur Liesel le Roux)