So lyk die NA Smit Swembad wanneer dit vol water is.
Deur Liesel le Roux
SWEMGALAS sal die somer wel op Oudtshoorn plaasvind – danksy hulp van die Wes-Kaapse regering.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, het Dinsdagoggend tydens ’n nuuskonferensie by die Kango Grotte bekend gemaak dat die Wes-Kaapse regering met die hulp van groot besighede, een miljoen liter water na Oudtshoorn sal bring om die NA Smit-swembad te vul.
As gevolg van die huidige droogte kan Oudtshoorn se water nie gebruik word om dié swembad te vul nie, wat beteken dat die swemgalas uit die dorp geskuif sal moet word.
Die groot swemgalas wat jaarliks tussen Oktober en Maart op Oudtshoorn plaasvind, is – soos alle groot sportbyeenkomste op Oudtshoorn – ’n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp.
“Oudtshoorn kan uit ’n ekonomiese oogpunt dit nie bekostig dat dié galas nie plaasvind nie,” het Bredell gesê. “Die galas skep werksgeleenthede in toerisme en besigheid. Ons moet mense se werk beskerm en kan nie die inkomste en werksgeleenthede verloor nie.”
Bredell het aangedui dat die water na Oudtshoorn gebring sal word van plekke waar daar nie waterskaarste is nie en dat ’n groot koeldrankmaatskappy reeds ingewillig het om vervoer vir die water beskikbaar te stel.