Wees gereed vir dié uitdagings

Beplan vir nog droogtes, en ook vir vullis en bevolkingsgroei

Deur Liesel le Roux
WATERTEKORTE, onbeheerbare hoeveelhede vullis en ’n groot toename in bevolkingsgroei is drie uitdagings waarvoor inwoners van die Wes-Kaap gereed moet maak, sê Anton Bredell, Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Omge- wingsake en Ontwikkelingsbeplanning.

Bredell het Dinsdag tydens ’n besoek aan Oudts­hoorn gesê aardverwarming is hier om te bly en dat inwoners hulle daarvoor moet gereed maak dat die huidige droogte – volgens statistiek die ergste in 400 jaar – gevolg sal word deur meer droogtes en uiterste natuurverskynsels.

“Ons sal ons leefwyse hierby moet aanpas en voortgaan om oral water te bespaar en waterverlies in elke munisipaliteit tot onder vyftien persent te beperk. Ons moet volhoubare dorpe en stede skep.”

Dit is egter nie al waarop inwoners voorbereid moet wees nie, sê Bredell.

“Die volgende ramp waarop inwoners voorbereid moet wees, is vullis.”

Volgens Bredell sal die huidige stortingsterreine in die provinsie nie kan byhou met die hoeveelhede vullis wat toenemend deur inwoners gege­nereer word nie.

Hy sê die Wes-Kaap moet ook voorbereid wees en beplan vir ’n groot bevolkingsgroei in die provinsie, onder meer as gevolg van baie mense wat na die Wes-Kaap beweeg.