Wenkbroue lig oor bokpote in drein in middedorp

Die oorskot van skynbaar ’n bok wat Vrydagmiddag in ’n drein langs Hoogstraat gelê het.

Die oorskot van skynbaar ’n bok wat Vrydagmiddag in ’n drein langs Hoogstraat gelê het.

’N WERKNEMER van Milady’s op Oudtshoorn, Yolandi Gouws, kon Vrydagmiddag nie haar oë glo toe sy die oorskot van ’n dier in ’n drein in die stegie langs Milady’s raakgesien het nie.

Gouws sê sy het na buite gegaan en toe iets in die drein opgemerk.

Sy en ’n kollega, Marina Benade, het vermoed dit is ’n deel van ’n klein hondjie se oorskot en die Polisie en die munisipaliteit in kennis gestel.

Nadat iemand egter die oorskot uit die drein uitgehaal het, was dit duidelik dat dit bokpote was wat iemand in dié drein in die middedorp gegooi het.

Volgens Gouws het sy vroeër die dag op dieselfde plek gestaan en rook en was die drein toe leeg.

’n Polisiebeampte op die toneel het gesê hulle sal die munisipaliteit versoek om die oorskot te verwyder.

Omstaanders het gegis oor doe oorsprong van die bokpote en wat dit in ’n drein in die middedorp van Oudtshoorn soek.