Eerste leerders wat modelvliegtuie bou!

 

Skole

GEDULD, tegniese vaardigheid, en hoe om met jou hande te werk is maar net ’n handjievol vaardighede wat leerders by Laerskool Laurus deesdae kan leer.

Lede van die Kango Vliegklub help leerders van Laerskool Laurus nou om hul eie modelvliegtuie te bou.

Hierdie klas is waarskynlik een van die eerstes van sy soort in die land.

Leerders sal leer hoe om ’n modelvliegtuig vanaf ’n plan te bou, en dan hoe om die klein vliegtuigie te laat vlieg.

Om mee te begin het Ray Moody, ondervoorsitter van die Kango Vliegklub, die kinders geleer hoe om papiervliegtuie te maak.

Dit was die eerste fase in die vestiging van die Laurus Modelvliegtuigklub.

Leerders wat nie baie belang stel in sport of sportief is nie, word deur die onderwysers vir hier­die klas gekies. Die klas bestaan tans uit 20 leerders.

Moody sê hy bou modelvliegtuie al vandat hy agt jaar oud is. “Daar is baie wat leerders hieruit kan leer. Baie kinders spandeer deesdae te veel tyd met hul selfone.
“Hierdie klas leer jou hoe om met jou hande te werk, hoe om geduldig te bly en hoe om probleme op te los.”

Hy sê alle materiaal en planne word vir die leerders geborg deur Traplet Publications van Engeland.

Hierdie aktiwiteit vorm nou deel van die sportprogram by die skool en die leerders gaan binnekort begin deelneem aan kompetisies.