Nog ’n ‘statige dame’ vir Baron van Reedestraat

Die huis in Baron van Reedestraat, net langs die sandsteenhuis van Saayman en Kie, het soos van uit die niet verskyn nadat ’n hoë muur wat dit verberg het, deur die huis se nuwe eienaars afgebreek is. Dié huis wat waarskynlik uit die volstruisveer-bloeitydperk dateer - word tans gerestoureer. Volgens Stefaan Verlinde, nuwe eienaar van die huis, sal Seeff Oudtshoorn se kantore in die huis gevestig word. Verlinde sê dit is vir hom lekker dat dié mooi ou huis nou weer sigbaar is saam met al die baie ander besondere historiese geboue in Baron van Reedestraat.

Die huis in Baron van Reedestraat, net langs die sandsteenhuis van Saayman en Kie, het soos van uit die niet verskyn nadat ’n hoë muur wat dit verberg het, deur die huis se nuwe eienaars afgebreek is. Dié huis wat waarskynlik uit die volstruisveer-bloeitydperk dateer – word tans gerestoureer. Volgens Stefaan Verlinde, nuwe eienaar van die huis, sal Seeff Oudtshoorn se kantore in die huis gevestig word. Verlinde sê dit is vir hom lekker dat dié mooi ou huis nou weer sigbaar is saam met al die baie ander besondere historiese geboue in Baron van Reedestraat.

EEN van Baron van Reedestraat se mooi ou historiese huise is nou weer sigbaar nadat die hoë muur waaragter dit verberg was, afgebreek is.

Die huis is geleë in die deel van die straat wat bekend staan as die “goue myl” en talle histories belangrike huise en restaurante huisves.

Dié pragtige voorbeeld van Oudtshoorn se argitektoniese erfenis is onlangs deur Stefaan Verlinde, eienaar van Seeff Eiendomme, gekoop waar­­na begin is om die muur af te breek en die huis te restoureer.

Verlinde sê hoewel hy die huis van die straat af wil beveilig, oorweeg hy nog moontlikhede wat die huis nie weer sal wegsteek nie.

Hazel Jonker, kenner van Oudts­hoorn se ou geboue, sê dit is ’n riem onder die hart dat die nuwe eie­naar self bewus is van die erfeniswaarde van die eiendom.

“Die restourasie is taamlik ver gevorder en Oudtshoorniete sien daarna uit om hier­die statige dame in wat eens as Queenstraat bekend gestaan het, weer te kan bewonder. Dit is ’n waardige toe­voeging tot die toeriste-aantreklikhede van die ‘veredorp’,” het Jonker gesê.

Sy raam dat die huis waarskynlik uit die volstruis­veer-bloeiperiode dateer.

Dit het vroeër ’n diep veranda of stoep gehad, en het ook besonderse mooi geelhoutvloere en ruim vertrekke.

“Die eiendom het aanvanklik net ’n klein tuinhekkie langs Baron van Reedestraat gehad en toegang vir perdekarre en later motors was vanuit Hoopstraat. Die watervoor voor die huis is eers heelwat later toegemaak om ’n sypaadjie te bou.

“Die eiendom het tot teen die rivier gestrek en mnr Corrie Mulder, ’n vorige eienaar, het ’n boer­dery daar bedryf. Hy en tant Lenie en hul gesin het in 1959 vanaf hul plaas te Volmoed daarheen verhuis. Tant Lenie het self ’n winsgewinde blom­kwekery daar begin. Dahlias en jakopregops was baie gesog, en die dorpenaars, wit en bruin, het veral naweke by haar blomme gaan koop.”

Jonker sê die Mulders het die eiendom van mnr HH Steyn, ’n plaaslike prokureur en ’n voormalige burgemeester, gekoop.

Meer onlangse eienaars was Jenny en Mark Johnson en Pieter en Susan Lategan.