Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisoplegging van ’n vrou wat aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind is, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel omdat ’n voorvonnisverslag nog nie opgstel kon word nie.
Wenzel Botha van die plaaslike regshulpraad wat namens sy kollega, Eugene Roos, ingestaan het, het die hof meegedeel dat die beskuldigde, die 42-jarige Felicity Botha, ’n nuwe huis in Rose Valley gekry het waar nog nie adresse is nie en dat die maatskaplike werker haar nog nie kon vind nie.
Botha het die hof namens sy kliënt om verskoning gevra omdat sy gefaal het om die beampte hieroor in te lig.
Streeklanddros Retha Pretorius het gelas dat sy die beampte sonder enige versuim besoek vir die opstel van die verslag sodat die saak afgehandel kan word.
Botha het ’n 36-jarige vrou, Elizabeth Naude, met ’n mes in die nek gesteek, Naudé is na die voorval verlam en moet met ’n rolstoel oor die weg kom. Sy het tydens die verhoor getuig dat sy feitlik niks vir haarself kan doen nie en gehelp moet word om te eet en haar aan te trek.
Felicity Botha het onskuldig gepleit op ’n klagte van poging tot moord. Sy het aangevoer dat sy onder die invloed van alkohol was en nie bedoel het om Naudé leed aan te doen nie.
Die saak is finaal tot 19 Februarie uitgestel.