Deur Garnett Wicomb
VONNISVERRIGTINGE van ’n vrou van Rose Valley wat skuldig bevind is op klagtes van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, is in die Oudtshoorn Streekhof vir ’n korrektiewe verslag en voorvonnisbetoë voorlopig uitgestel.
Leanté Gerber (26) het skuld beken en in ’n pleitverduideliking erken sy het verkeerd opgetree.
Sy is op 28 Desember verlede jaar in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n semi-outomatiese Firestar-pistool en vyf patrone.
Sy voer aan dat sy dit uit goeder trou vir iemand gehou het.
Op vrae van die hof het sy gesê dat sy daarvan bewus was dat sy ’n lisensie vir ’n vuurwapen moet besit en gestraf kan word.
Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het Gerber nie vorige veroordelings of enige ander hangende sake teen haar nie en die staat het haar pleitverduideliking aanvaar.
Haar regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het die hof vir uitstel gevra omdat hy nie voorbereid was om vir vonnis te betoog nie.
Gerber se borgtog en borgvoorwaardes is deur streeklanddros Ntsoki Moni verleng.
Sy mag onder meer nie Oudtshoorn verlaat of van woonadres verander sonder die wete van die ondersoekbeampte nie.