Rotariërs onthaal seuns van Huis Triomf

Die Oudtshoorn Rotariërklub het Saterdag, 27 Julie, in die gees van Mandeladag vir die seuns van Huis Triomf op Oudtshoorn gaan kuier en hul dag aansienlik opgevrolik. Die Rotariërs het hamburgerpatties vir die seuns gebraai en hamburgers gemaak wat hulle saam met lekker souse en warm aartappelskyfies aan die seuns bedien het Daarna het die seuns ook roomys gekry met kleurryke “sprinkles”. Hulle het ook tuisgebakte appeltertjies gekry. ’n Hoogtepunt van die oggend was die kulkunstenaar, oom Jannie de Bruin, wat die seuns op baie humoristiese wyse met sy towertruuks vermaak het. Oom Jannie, wat ook ’n buikspreker is, en sy pop Tommie Tomsen het die seuns laat skaterlag met hul kwinkslae. Schalk le Roux, presi­dent van die Oudtshoorn Rotariërs, wat die vertoning net soveel as die jongklomp geniet het, het oom Jannie van harte bedank dat hy die vertoning kosteloos aangebied het.