Vonnisse moet geweld ontmoedig

OUDTSHOORN se stasiebevelvoerder, brig Susan Crafford, was vandeesweek vol lof vir ao Martin le Roux vir sy bydrae as ondersoekbeampte om te verseker dat die oortreders in drie hofsake skuldig bevind en gevonnis is. “Ek hoop die vonnisse skrik mense af en laat hulle besef geweld is nie die anwoord nie,” het Crafford gesê.

In die eerste saak is ’n man op 21 Julie skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.

Hy is in hegtenis geneem nadat ’n sekuriteitsbeampte op 7 September verlede jaar omstreeks 01:45 by Klein Karoo Water in St Saviourstraat oorval en aangerand is.

Sowat R2000 se koperpyp is gesteel.

In die tweede saak is Valentino (Tino) Ewerts (27) op 25 Augustus skuldig bevind aan die moord op Glenton Arendse (23) en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Arendse is op 3 September 2017 om 22:12 verskeie kere in Kuduweg met ’n mes gesteek.

Hy is in die hospitaal oorlede.

In die derde saak is Heinrich Booysen (27) op 31 Augustus skuldig bevind aan die moord op Dawid Desmond Sampson (34) en tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.

Sampson se liggaam is op 27 Februarie 2016 om 22:40 in Wildepruimstraat in Smartietown gevind. Hy het weens ’n steekwond beswyk.