Volstruisveerdiewe kry opgeskorte vonnisse

Deur Liesel le Roux
VYF mans van Oudtshoorn is onlangs in twee afsonderlike hofsake opge­skorte vonnisse vir volstruis-veerdiefstal opgelê.

In die een geval is Pieter Gideon (Pierre) Marais (32) onlangs ’n op­geskorte vonnis in die Albertinia Landdroshof opgelê nadat hy skuldig bevind is daaraan dat hy volstruisvere gesteel en op die swartmark verkoop het.

Marais is op 6 Februarie op die plaas Sandfontein in die Albertinia-omgewing in hegtenis geneem.
Volgens ao Fasie de Kock, ope­ra­siebevelvoerder van die Oudtshoorn Veediefstaleenheid, was Marais op die dag van sy inhegtenisneming sonder toestemming op die plaas en het die plaasvoorman hom met die vere agterop sy bakkie betrap.

De Kock sê Marais het ’n pleit­ooreenkoms met die staat aangegaan nadat drie klagtes van verediefstal teen hom gelê is.

Hy het op al drie klagtes skuldig gepleit.

Hy is tot twee jaar tronkstraf op elke klag gevonnis, opgeskort vir vyf jaar.

Hy moet ook vergoeding betaal aan die benadeeldes en ook alle uitstaande rekeninge vir dienste afskryf.

Volgens De Kock het Marais klaarblyklik meermale wanneer hy vere vir ’n kliënt moes pluk, ’n deel daarvan gehou.

Hy het ook mense betaal om in die nag vir hom vere te pluk.

• In ’n ander hofsaak is vier mans van die Oudtshoorn-omgewing opge­skorte vonnisse in die Oudtshoorn Landdroshof opgelê vir hul aandeel in voorvalle waar die vere van meer as 100 volstruise oornag op plase in die Volmoed- en sementpad-omge­wing buite Oudtshoorn van die voëls se lywe gepluk en gesteel is.

Die mans, Kiewiet Platjies (46), Alex Banthom (51), Isaak Sambo (42) en Marnoe Wagenaar (26) is op 7 Februarie deur die Veediefstaleenheid in hegtenis geneem.

Die voorvalle het teen die einde van ver­le­de jaar plaasgevind, met R68 000 se vere wat by een van die boe­re wat deurgeloop het, Bartel du Toit, gesteel is.
­­

Van die volstruise wat op 24 en 25 Desember gepluk is, was reeds ver-koop met hul slagwaarde wat as ge­volg van die plukkery gedaal het.

Van Du Toit se broeivolstruise het ook tydens die voorvalle deurgeloop en opgehou broei.

Na verneem word, het die mans sekere bekentenisse afgelê.