Voertuig beland op dak in sloot ná beweerde jaagtog agter rowers aan

Drie mans van Oudtshoorn was Saterdagoggend in dié wit Audi wat in ’n sloot beland het nadat die bestuurder na bewering beheer om ’n draai verloor het.                   Foto: Schalk le Roux

Drie mans van Oudtshoorn was Saterdagoggend in dié wit Audi wat in ’n sloot beland het nadat die bestuurder na bewering beheer om ’n draai verloor het. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
’N JAAGTOG agter die voertuig van vermeende rowers aan het na bewe­ring ’n botsing Saterdagoggend so­wat 20 km buite Oudtshoorn op die George-pad voorafgegaan.

Drie insittendes van ’n wit Audi is beseer toe die bestuurder om ’n draai beheer verloor en die voertuig van die pad geloop het. Die Audi het op sy dak in ’n diep sloot langs die pad beland.

Een van die insittendes het op die toneel gesê hulle het ’n Polo probeer agtersit nadat hy vroeër die dag by Absa op Oudtshoorn van sy geld beroof is.

Die vermeende rowers was na bewering in die Polo.

Twee van die mans, wat aangedui het hulle is in die weermag op Oudts­hoorn, is per ambulans na die Oudts­hoorn Hospitaal geneem waar hulle in die noodeenheid behandel is.

Een van die mans is vir verdere behandeling in die hospitaal opgeneem.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing omstreeks 10:40 plaasgevind.

“Na bewering wou die bestuurder van die wit Audi ’n ander voertuig verbysteek en het hy beheer oor die voertuig verloor,” het sy gesê.

Michaels het gesê sy dra nie kennis van die beweerde roof nie.