Munisipale werkers herstel die verfwerk op die hoek van Adderley- en St Saviourstraat verlede Donderdagoggend. Foto verskaf

Theo-Bruce Verleulen wat op sy sleutelbeen gekraak het. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
TWEE stoptekens wat onderskeidelik jare en maande lank al weg is van die hoek van Adderley- en St Saviourstraat in Oudtshoorn, was verlede Donderdag enkele ure na ’n botsing tussen ’n hoërskoolleerder op sy fiets en ’n Volkswagen Polo, uiteindelik terug op hulle plek.
Volgens ’n inwoner van die omgewing, Heinrich Bosman, is die een stopteken al in September 2015 in ’n botsing beskadig en is die ander een in Janu-arie vanjaar deur ’n vragmotor raakgery.
Ook die verfstrepe by die stoptekens op die teeroppervlak was kort na die botsing oorgeverf.
Theo-Bruce Vermeulen (17), ’n leerder van Langenhoven Gimnasium, was Donderdagoggend op pad skool toe toe die botsing plaasgevind het. Hy het sy sleutelbeen in die ongeluk gekraak en sy heup beseer.
“Ek het soos ouder gewoonte op die hoek van Adderleystraat en St Saviorstraat by die stopstraat gestop. Die polo het in Adderleystraat gestop. Ek het aanvaar die kar wag vir my en het vorentoe gery.”
Met die wegtrek het die Polo egter ook gery en het Theo-Bruce die motor tussen die bestuurders-kant se deur en modderskerm getref.
“Alles het in slow-motion gebeur,” vertel hy.
Gerda Tait, Theo-Bruce se ma, sê hulle neem nie die bestuurder van die Polo kwalik nie.
“Die strepe is so onduidelik. ’n Mens kan nie sien dis ’n stopstraat nie. Persone wat nie Oudts-hoorn ken nie, sal nie eens weet dat dit ’n stopstraat is nie.
“Hoekom moet dinge eers gedoen word nadat iemand seergekry het; hoekom eers dreig met regstappe? Dit kon my kind se lewe gekos het,” sê Tait.
Sy het aangedui dat sy beoog om verdere stappe teen die munisipaliteit te neem.
Die bestuurder van die motor was nie beskikbaar vir kommentaar nie, en na verneem word, erg getraumatiseer deur die voorval.
Volgens Bosman is die straathoek berug vir gereelde botsings en was hierdie die tweede ongeluk op die straathoek in minder as ’n week.