
Oudtshoorn Landdroshof.
’N VERHOORDATUM is gister (Maandag 8 Mei) in die Oudtshoorn Streekhof bepaal vir ’n skoolhoof van ’n primêre skool in die Oudtshoorn-distrik wat van verkragting aangekla word. Streeklanddros LK Wilkens het die saak vir verhoor tot 20 Junie 2017 uitgestel en die man se borgtog en borgvoorwaardes verleng.
Die 54-jarige beskuldigde wat nog nie gevra is om te pleit nie, is op 20 Maart vanjaar borgtog van R2 000 deur landdros Roelf Konstabel toegestaan nadat hy bevind het die staat se saak is nie sterk genoeg om dit te weier nie. Die beskuldigde het ook geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom nie.
Van die borgvoorwaardes behels dat hy nie kontak maak met die staatsgetuies in die saak nie en ook nie van adres verander sonder die medewete van die ondersoekbeampte nie.
Die beweerde verkragting het volgens die klagstaat op 9 Februarie vanjaar in Meiringspoort plaasgevind. Die klaer is ’n 47-jarige vrou van De Rust. (Berig deur Garnett Wicomb)