Die veld by Ruiterbos in die Langeberge het op 15 September aan die brand geslaan en oor die berg na Zebra in die Klein Karoo versprei. Die vuur het op 20 September weer opgevlam en nóg ’n keer op 2 Oktober, ten spyte van 20 mm reën die vorige week.
Volgens Henry, ’n plaaslike boer, is die berge se vuurlyn intussen geblus, maar die droogte hou gevaar in: “Omtrent elke tweede dag is daar nou ’n vuur langs die pad – waarskynlik van sigaretstompies wat by voertuie uitgegooi word. Ons vermoed ook dat sommige vure doelbewus in die Robinsonpas aangesteek word, want soms begin vlamme tegelyk op twee plekke.”
Hy sê CapeNature en Working on Fire se spanlede behoort ná bluswerk die vuurlyne deeglik na te gaan om smeulplekke uit te doof. “Daar was al drie opvlammings sedert die eerste brand geblus is – ons sal maar sien of dit nou finaal uit is.”
Brand is deel van die natuur
Henry meen brande is deel van die natuurlike siklus: “Dis maar net die natuur wat homself reguleer. Die Brandwet en die vrees vir skade het gemaak dat mense bang is om te brand. Die veld lê dus vir jare, en as ’n vuur uiteindelik uitbreek, is dit onstuitbaar omdat daar té veel brandbare materiaal is.”
Inkommers verstaan nie fynbos nie
Volgens hom dra inkommers – mense wat van elders in die land na die Suid-Kaap trek en leefstylplase begin – onwetend by tot die probleem.
“Ek kyk nie op hulle neer nie; hulle bring nuwe idees en geld, maar hulle verstaan nie die plaas-opset nie,” sê hy. “Hulle is te bang om te brand.”
Vroeër het sy pa, Fanie, gereeld klein stukkies veld met ’n beheerde brand afgebrand om te keer dat materiaal opgaar.
“As die vuur oorgespring het na die buurman, het hy gesê: ‘Dankie vir die lekker brandjie,’ want binne twee weke was die gras groen en die skape vet.” Mense wat uit stede kom, verstaan nie dat fynbos elke sewe tot tien jaar moet brand nie. “Hulle brand nooit, en dit skep net groter risiko’s,” sê Henry.
’n Natuurlike herstelproses
Hy meen sosiale media dra by tot wanpersepsies. “As fynbos brand, sê mense ‘13 000 ha is verwoes’. Maar ‘verwoes’ beteken weg – af van die grond af. ’n Fynbosbrand verwoes nie; dit vee net die ou plante af sodat nuwe groei kan uitkom.” Henry verwys na die groot bergbrand van 2018, die eerste in vyftig jaar.
“Ek was laasweek bo in die bergveld – die fynbos staan nou bakkiedeurhoogte en mooier as ooit, selfs in hierdie droogte! Die brand het dit nie vernietig nie; dit het dit net gesnoei.”
Vir hom is veldbrande dus nie net ’n ramp nie, maar ’n noodsaaklike deel van die natuur se selfherstel.
“As ons leer om met vuur saam te leef en dit verantwoordelik te bestuur, sal die veld en die boerdery sterker daaruit kom.” – Tisha Steyn, ProAgri Media (084 581 9512).
Veldbrande by Ruiterbos: Natuur wat homself reguleer
