Van voor af seer, sê Blauw-gesin

Soek steeds antwoorde oor moord

Deur Garnett Wicomb
DIE vrou en dogters van Willem Blaauw (40) wat in die vroeë oggendure van 15 April 1986 koelbloedig in Bongolethu doodgeskiet is, sê hulle soek steeds antwoorde oor waarom hy vermoor is.
Dié gesinslede van Willem Blaauw is baie ongelukkig oor die helde-ontvangs van die oorskot van Michael Lucas, wat aan moord skuldig bevind en gehang is.

“Dit wil nou voorkom asof Lucas ’n held is en my man ’n krimineel,” sê die weduwee van Blaauw, Katy Blaauw, wat ’n maand swanger was met sy dood.

Blaauw is agter die stuurwiel van ’n bakkie waarmee hy ’n businspekteur rondgery het, dood­geskiet.
“Ek moes na my man se dood my kinders al­leen grootmaak. Ons koester geen wrok teenoor Lucas se familie nie of dat sy oorskot aan hulle terugbesorg is vir ’n waardige begrafnis nie. Daar is egter soveel vrae sonder antwoorde.”

Volgens haar het ’n vader van die Rooms-Katolieke Kerk haar na die teregstelling van Lucas besoek en ’n brief van Lucas aan haar voorgelees.

In die brief vra Lucas om verskoning en spreek hy die hoop uit dat Blaauw se familie hom sal vergewe.
“Ons het hom vergewe, maar die wonde word nou weer oopgemaak met die publisiteit en ophemeling wat die tuiskoms van Lucas se oorskot geniet. Dit kwel,” sê Maryna Blaauw, wat 12 jaar oud was toe haar pa doodgeskiet is.

Volgens Katy Blaauw het sy na haar man se dood R200 per maand van die Versoeningskommissie ontvang. Dit beloop tans R1 200 per maand.

“Ons gun dit aan Lucas se naasbestaandes dat sy oorskot aan hulle terugbesorg word en hulle hom waardig kan begrawe. Ons is nie kwaad vir hulle nie omdat dit nie my pa sal terugbring nie,” sê nog ’n dogter, Denise.