Martha Ncwango, moeder van Michael Lucas, en sy dogter, Pamela Tu, by die kis met die oorskot. Inlas: Oud-MK-lede Dinsdag op Oudtshoorn met die kis. Foto’s: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE destydse apartheidsregering het geen respek gehad vir vryheidsvegters soos Michael Lucas nie, het die nasionale minister van justisie en korrektiewe dienste, Michael Masutha, Dinsdagoggend in die Banketsaal van die Oudtshoorn Burgersentrum gesê. Hy het die oorskot van Lucas meer as 29 jaar nadat hy gehang is vir die moord op Willem Blaauw van Oudtshoorn aan Lucas se familie oorhandig.
Blaauw was die bestuurder van ’n bakkie waarmee hy businspekteurs vervoer het.
Hartseertonele het hulle Dinsdag afgespeel.
Die oorhandiging wass deel van ’n regeringsprojek om die oorskot van politieke gevangenes wat gehang is, aan hul geliefdes terug te besorg.
“Dit is baie traumaties vir die familie van Lucas, maar hulle kan hom nou ’n behoorlike en waardige begrafnis gee,” het Masutha gesê.
Volgens die minister is Lucas ’n held van die Suid-Afrikaanse revolusionêre stryd en gee die oorhandiging erkenning aan die doodstraf wat in Junie 1995 afgeskaf is.
Lucas van Bongolethu, ’n politieke aktivis van die destydse United Democratic Front (UDF), was 21 jaar oud toe hy in 1988 in Pretoria gehang is.
Hy het skuldig gepleit op klagtes van opsetlike saakbeskadiging en strafbare manslag, maar is deur regter Williamson aan moord skuldig bevind.
Die Nasionale Vervolgingsgesag se taakspan vir vermiste persone het Lucas se oorskot opgegrawe en geverifieer.
Volgens die minister is 140 persone deur die apartheidsregering gehang waarvan 83 reeds geïdentifiseer is. “Vandag is die einde van ’n lang en pynlike proses. Ons deel in die hartseer van Lucas se familie en hoop dat daar nou rustigheid in hul harte is,” het Masutha gesê.
Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, het gesê Lucas se familie kry die geleentheid om sy lewe nog ’n keer te vier.
“Oudshoorn verwelkom sy oorskot, want hy is ’n seun van die dorp,” het Sylvester bygevoeg.
Mzwanwile Sazama, wat namens die familie opgetree het, het gesê die geleentheid bring die gelukkige tye terug wat hulle saam deurgebring het, maar dat dit ook hartseer is omdat hy destyds gehang is.
’n Oud-skoolmaat en medestryder van Lucas, Andile Marenene, het gesê dat Lucas nie vir Blaauw doodgeskiet het nie.
Volgens hom was Lucas anders as hulle almal en het hy sy eie oortuigings gehad. “Michael was ’n baie ge- dissiplineerde persoon en goeie klipgooier. Hy het ons geleer om klip te gooi. Hy was ons kommandeur en het spesiale wegkruipplekke vir die polisie gehad.”
’n Afgevaardigde van die Wes-Kaapse ANC, Lionel Adendorf, wou weet waarom ’n straat of woonbuurt nog nie na Lucas vernoem is nie.
Lucas word Saterdag herbegrawe (08:00 – 10:00 by 17de Laan 668, Bongolethu; 10:00 – 12:00 by die Nevadasaal; 12:00 by die Rooms-Katolieke Kerk in Bongolethu).